Zoeloe-kultuur II: Geleenthede en feeste
Vanuit MyFundi
Inhoud |
Zoeloe-kultuur II: Geleenthede en feeste
Opsomming
Die Zoeloes (AmaZulu), die grootste etniese groep in Suid-Afrika, het 'n kenmerkende kultuur met ingewikkelde tradisies en rituele. In hierdie artikel, die laaste in 'n reeks van twee, word daar gekyk na geleenthede en feeste van kulturele belang vir die Zoeloes.
'n Zoeloe-dansgroep in tradisionele drag. Die Zoeloe-dans het oorspronklik ontwikkel as 'n manier vir mans om hul talente ten toon te stel, nie slegs vir vermaaklikheid nie, maar ook om die teenoorgestelde geslag te beïndruk. Ken Oosterbroek/PictureNET Africa
Daar is verskeie tradisionele feestelike geleenthede in die Zoeloe-kultuur, insluitende umemulo ('n viering gewy aan vroue wat hulle by die tradisionele reëls hou totdat hulle vir die huwelik gereed is), umgcagco (huwelik) en umsebenzi (voorouerseremonie).
Een van die grootste feeste is die Rietseremonie (Umkhosi Womhlanga) wat by die koning se koninklike paleis gehou word.
Hierdie geleenthede en feeste word gewoonlik vir naweke beplan:
Rietseremonie (Umkhosi Womhlanga)
- Die Rietseremonie, wat een van die belangrikste geleenthede van die Zoeloes is, word by die Enyokeni- koninklike paleis in Nongoma, een van die Zoeloe-koning se paleise, gehou. Dit was oorspronklik 'n geleentheid waartydens die hoof van die Zoeloe-stam (inkosi) sy vroue onder die maagde (izintombi genoem) gekies het. Dit sluit die amaqhikiza (vroue wat in hofmaakverhoudings betrokke is en vir die huwelik gereed is) en jongvroue (amatshitshi) in.
Aangesien net maagde toegelaat word om hierdie fees by te woon, moet die kandidate (gewoonlik tussen die ouderdom van tien en agttien) maagdelikheidstoetse ondergaan wat deur ouer vrouens in hul onderskeie gebiede uitgevoer word. Net diegene wat die toets slaag, word toegelaat om die seremonie, wat gewoonlik in September plaasvind, by te woon.
Elke jaar kom jongvroue uit die meeste dele van KwaZulu-Natal en elders by die koninklike paleis bymekaar. Hulle dra gewoonlik tradisionele klere wat net hul privaatdele bedek (izinciba), met stringe krale om hul nekke. Die seremonie word amptelik geopen deur die Zoeloe-koning (ten tye van skrywe koning Zwelithini). Ná die openingseremonie gaan haal die jongvroue, gelei deur die koning se prinsesse, riete uit die Umfolozi-rivier naby die Enyokeni-paleis en plaas dit op 'n hoop by die paleis. Wanneer die koning kom om na die optog te kyk, word hy deur een of meer van sy lofsangers (izimbongi) besing.
Koning Goodwill Zwelithini in tradisionele drag.
Elke jongvrou tel dan 'n riet uit die hoop op, loop verby die koning, plaas dit op die grond en gaan na haar aanvanklike posisie terug. Voorheen sou dít die tydstip gewees het wanneer die koning sy nuwe vrou sou kies. Deesdae kyk koning Zwelithini en sy gaste egter net toe hoe die jongvroue dans en sing. Aan die einde van die dans maak die koning sy toespraak, waarna die ouer vroue ululate en lofprysings sing. In sy toespraak praat hy gewoonlik oor kwessies van moraliteit en ontwikkeling.
Die Rietseremonie word beskou as 'n sleutelelement vir die behoud van die maagdelikheid van jong Zoeloe-meisies totdat hulle trou. Die seremonie word ook amptelik beskou as 'n geleentheid om "'n gevoel van trots, samehorigheid en identiteit" onder jong Zoeloe-vroue uit te beeld en te bevorder.
Umemulo
Umemulo is 'n geleentheid wat gewy is aan jongvroue wat hulle by die tradisionele reëls hou totdat hulle die ouderdom bereik waar hulle vir die huwelik gereed is. Die belangrikste hiervan is die behoud van maagdelikheid totdat hulle trou. As 'n vrou hierdie reël verbreek, word dit as 'n skande vir haar en haar familie beskou. In wese vier hierdie geleentheid dus 'n vrou se selfrespek en druk dit haar familie se trots op haar uit. Familielede en vriende word genooi om saam met die familie fees te vier.
Die Vrydagmiddag word 'n koei en 'n bok geslag en almal kom in 'n oop ruimte (esigcawini) bymekaar waar die vleis bedien word. Daarna sing en dans hulle. Die aand voer vroue in dieselfde ouderdomsgroep as die vrou aan wie die geleentheid gewy is, 'n gebruik uit wat ukuvula ingungu genoem word. Hiervoor word 'n emmer met die vel van die geslagte bok bedek, met die binnekant na buite. Terwyl een of twee vroue kniel om die vel na die kante van die emmer ondertoe te trek, plaas 'n ander vrou, wat staan, 'n gladde riet vertikaal bo-op en gooi water op die vel en die riet. Sy plaas haar hande om die riet en begin hulle dan om die beurt op en af beweeg om 'n vibrerende geluid voort te bring.
Al die vroue begin 'n lied sing waarin hulle elke lid van die abameli se familie roep (abameli verwys gewoonlik na die selebrant se swaer en sy familie of na haar tante se man en sy familie). Elke lid kom dan vorentoe om geld of 'n geskenk aan die selebrant te oorhandig. Die gesing en gedans hou tot die volgende oggend aan.
Die oggend word die selebrant na die kraal geneem waar die oues aan die voorouers aankondig dat sy volwassenheid bereik het. Hulle plaas dan 'n stuk bokvel om haar linkerhand, wat simboliseer dat 'n dier namens haar geslag is. Hierna word die bok se galblaas leeggemaak, opgeblaas en aan haar kop vasgebind (die oorsprong van hierdie gebruik is onbekend).
Hierna sluit sy haar aan by die singende en dansende mense wat in 'n oop ruimte (esigcawini) bymekaar is. Met tussenposes word kos (wat vleis insluit) bedien. Regdeur die geleentheid ontvang die selebrant geskenke en geld van familielede en ander gaste.
Umgcagco(troue)
'n Tradisionele Zoeloe-troue naby Cathedral Peak in die uKhuhlamba Drakensberg Park. In die Zoeloe-kultuur is 'n troue 'n geleentheid wanneer 'n vrou formeel in haar man se familie, wat haar nuwe familie word, opgeneem word. www.saworldheritage.com
In die Zoeloe-kultuur is 'n troue 'n geleentheid wanneer 'n vrou formeel in haar man se familie, wat haar nuwe familie word, opgeneem word. Hierdie seremonie sluit 'n aankondiging aan die man se voorouers in. In hierdie aankondiging word die voorouers vertel van die nuwe vrou wat haar by die familie aansluit. Dit is 'n belangrike deel van die seremonie omdat dit verseker dat sy deur haar man se voorouers as deel van die familie erken word sodat hulle hul beskerming na haar kan uitbrei.
Hoewel die meeste Zoeloe-troues deesdae Westerse invloede bevat, byvoorbeeld die gebruik dat die bruid 'n wit bruidsrok dra, hou 'n klein deel van die gemeenskap nog betreklik tradisionele troues:
Bruid (Umakoti)
Die bruid dra 'n geplooide romp wat van 'n saggemaakte beesvel (isidwaba) gemaak is, 'n bostuk en om die middel 'n gordel van gevlegte gras, met wolstroke aan beide punte wat met krale versier is en die voorkop en oë bedek (imvakazi). Sy rond dit af met verskillende krale-artikels om die nek, arms en middel.
Bruidegom (Ukhwenyana)
Die bruidegom dra 'n stuk saggemaakte beesvel, ibheshu genoem, wat die rug van die boude tot by die knieë bedek. Voor dra hy 'n wildbokvel wat in stroke gesny is (izinene) wat die privaatdele bedek. Hy dra ook verskillende krale-artikels om sy nek en arms.
Seremonie
Die seremonie begin die Vrydagmiddag by die bruid se familiehuis waar 'n koei (uphaphe) vir kos geslag word. 'n Bok word ook geslag om die funksie by die voorouers aan te meld. Hoewel bokke in die Zoeloe-kultuur vir kos gebruik kan word, word hulle - baie belangriker - beskou as die enigste diere wat die lewendes met die voorouers in aanraking kan bring.
Die mense wat die seremonie bywoon, eet die vleis en sing en dans tot die aand toe. Daarna gaan hulle almal na die bruidegom se dorpie, waar hulle by die naaste rivier wag vir die bruidegom se pa om hulle te kom haal.
Die Saterdagoggend word 'n tweede koei geslag en kom almal bymekaar in 'n oop ruimte (esigcawini) waar die bruid se kant, as umthimba bekend, deur dans en sang begin meeding met die bruidegom se kant, ikhetho genoem. Die dansery gaan voort totdat die hoofman se boodskapper ('n man wat deur die hoofman van daardie dorpie gestuur is om as getuie by die ooreenkoms tussen die twee families op te tree) opdaag.
Hy doen navraag oor die aantal koeie wat vir ilobolo betaal is (die prys wat deur die bruidegom aan die bruid se familie betaal is), die aantal huidige vroue van die bruidegom (as hy reeds getroud is) en die aantal kinders. Hierdie navrae word aan albei families gerig. Daarna rig hy sy vrae aan die bruidspaar, en vra die bruid of sy die bruidegom liefhet en bereid is om met hom te trou. Ná haar antwoord word dieselfde vrae aan die bruidegom gestel. Ná die bruidegom se antwoord vertrek die hoofman se boodskapper weer.
Daarna word daar gedans en gesing. Die kos wat as die hoofmaaltyd van die dag bedien word, sluit vleis, rys, stampmielies en slaaie in. Die gedans hou tot laat aan.
Die Sondag word nog 'n koei (imvuma) geslag om die bruid in haar nuwe familie te aanvaar. Daarna volg 'n ritueel wat as umabo bekend staan ('n gebruik waar die bruid geskenke aan die bruidegom se familie oorhandig). In hierdie gebruik word geskenke soos komberse, amacansi (grasmatte), amavovo (geweefde siwwe) en izinkamba (bolvormige potte met kleinerige bekke vir die drink van sorghumbier) aan die bruidegom se ouers en familielede, met inbegrip van afgestorwe lede van die familie, gegee. (Die afgestorwenes word deur die lewende lede van die familie verteenwoordig.)
Teen die einde van die feestelikhede kom nabye familielede van albei families bymekaar in 'n hut, wat kwagogo genoem word, om te verrig wat as ukuthetha ukulanda bekend staan. (Die kwagogo is 'n hut in die hoofwoonplek van die woning wat 'n heilige gebied het wat teenoor die hut se ingang geleë is en waar die voorouergeeste na bewering woon.) Gedurende hierdie byeenkoms bespreek hulle die verrigtinge, ilobolo en umabo. As daar klagtes hieroor is, moet dit geopper en tydens hierdie bespreking hanteer word.
Voordat die bruid se familie vertrek, gee die ouer vrouens van haar familie haar lesse oor hoe om haar in haar nuwe familie te gedra.
Voorouerseremonie (Umsebenzi)
'n Voorouerseremonie word gehou ter ere van die voorouers van die betrokke familie. Dit word ná die begrafnis van die afgestorwene gehou. Dit is bedoel om die gees van die afgestorwene aan die voorouers van die familie bekend te stel.
By hierdie geleentheid word 'n bok (wat beskou word as die enigste dier wat die lewendes met die geesteswêreld in aanraking kan bring) na 'n hut geneem, kwagogo genoem, waar die familie byeenkom. (Sien beskrywing hierbo.)
Die hoof van die huishouding, wat manlik moet wees, gaan na die umsamo (die heilige gebied oorkant die hut se ingang waar die voorouergeeste na bewering woon) en praat met die geeste. Hy roep die name van al die voorouers uit en vra hulle om die gees van die afgestorwene te aanvaar.
Soos in ander seremonies, word 'n koei geslag en saam met ander kos as 'n feesmaal vir gaste voorberei.
(Sien ook artikels: "Zoeloe-kultuur I: Tradisionele leefwyse" en "Zoeloe-danse".)











