modified on 1 November 2011 at 15:06 ••• 31 330 views

Zoeloe-kultuur I: Tradisionele leefwyse

Vanuit MyFundi

Spring na: navigasie, soek

Inhoud

Zoeloe-kultuur I: Tradisionele leefwyse

Opsomming

Die Zoeloes (AmaZulu), die grootste etniese groep in Suid-Afrika, het 'n kenmerkende kultuur met ingewikkelde tradisies en rituele. In hierdie artikel, die eerste in 'n reeks van twee, word daar gekyk na hul tradisionele leefwyse wat kos, klere en krale betref. (Sien ook artikel: "Zoeloe-kultuur II: Geleenthede en feeste".)

Img04964.jpg
In die Zoeloe-kultuur word die verskillende sosiale lewenstadiums duidelik omskryf en deur kleredrag aangedui. Getroude vroue (soos die vrou op die foto), byvoorbeeld, dra tradisioneel rooi, sampioenvormige hoede (izicholo), wat gewoonlik met krale versier is. Henner Frankenfeld / PictureNET Africa

Die Zoeloes (AmaZulu), die grootste etniese groep in Suid-Afrika, maak 21 % van die swart bevolking in die land uit. Hul kultuur, tradisies en rituele, wat meestal ingewikkeld is, onderskei hulle van ander etniese groepe. Hoewel die meeste van die Zoeloes se kulturele gebruike bewaar gebly het en nog in landelike gebiede beoefen word, het sommige aspekte verlore gegaan of verander, veral in stedelike en township-gemeenskappe.

Kleredrag

In die Zoeloe-kultuur word die verskillende sosiale lewenstadiums duidelik vir beide mans en vroue omskryf. Getroude vroue word byvoorbeeld abaganile of amakhosikazi genoem, en ongetroudes word gesamentlik izintombi genoem.

Hierdie groep word verder verdeel in amaqhikiza (vroue wat in hofmaakverhoudings is en gereed vir trou is) en amatshitshi (dié wat nog nie die hofmaakstadium bereik het nie).

Onder die mans staan getroude mans bekend as abaganiwe of amadoda en dié wat ongetroud maar in hofmaakverhoudings is, as izinsizwa. Hierdie verskillende stadiums is ook duidelik te sien in die tipe klere wat deur elke groep gedra word:

Getroude vroue

wêrelderfenisterrein, wêrelderfenisgebied, uKhahlamba Drakensberg Park, uKhahlamba, Drakensberg, berg, berge, kultuur, Zoeloe-kultuur, Zoeloes, hut, grashut, Zoeloe-hut, hutbou, dekgras, Zoeloe-vrou, Cathedral Peak, tradisionele leefwyse
'n Zoeloe-vrou dra gesnyde gras aan wat vir die bou van tradisionele hutte gebruik word. www.saworldheritage.com

Getroude vroue dra tradisioneel geplooide rompe wat van 'n saggemaakte beesvel, izidwaba genoem, gemaak is, bostukke en vierhoekige flenniedoeke (sagte geweefde doeke van 'n mengsel van wol en katoen), amabhayi genoem, oor hul skouers. Op die kop dra hulle tradisioneel rooi, sampioenvormige hoede (izicholo) met 'n gemiddelde hoogte van 14,5 cm en 'n omtrek van 122 cm, gewoonlik met krale versier. Om die middel bind hulle izifociya (gordels van gevlegte gras gemaak, met wolstroke aan beide punte wat met krale versier is) en metaalarmbande (ubusenga) wat bokant die elmboog gedra word.

Amaqhikiza(vroue in hofmaakverhoudings)

Amaqhikiza dra geplooide flenniedoeke soortgelyk aan rompe (obhuka). Om die nek dra hulle stringe krale (ubuhlalu).

Amatshitshi(vroue nog nie in hofmaakverhoudings nie)

Amatshitshi dra tradisioneel izinciba (wolstroke met krale versier, wat om die middel gebind word en die privaatdele bedek).

MAAGDELIKHEIDSTOETS (''Ukuhlolwa kwezintombi'')

Maagdelikheidstoetse, wat minstens een keer per maand uitgevoer word, is 'n ou tradisie in die Zoeloe-kultuur wat daarop gemik is om te verseker dat vroue hulle tot en met hul huwelik van seksuele aktiwiteite weerhou. Hierdie gebruik, wat deur bejaarde vroue uitgevoer word, behels 'n ondersoek van die vagina om te sien of die meisie se maagdevlies (die dun membraan van vel wat die ingang tot die vagina van 'n maagd gedeeltelik beskerm) nog ongeskonde is of nie. Met 'n groot persentasie van mense wat aan Vigs-verwante siektes in Suider-Afrika sterf, het baie gemeenskappe weer begin belang stel om die ou gebruik van maagdelikheidstoetse te laat herleef as beveiliging teen MIV/Vigs.

Getroude en ongetroude mans

wêrelderfenisterrein, wêrelderfenisgebied, uKhahlamba Drakensberg Park, uKhahlamba, Drakensberg, berg, berge, kultuur, Zoeloe-kultuur, Zoeloes, hut, grashut, Zoeloe-hut, hutbou, Cathedral Peak, tradisionele leefwyse
'n Tradisionele Zoeloehut van gras wat naby Cathedral Peak, KwaZulu-Natal, gebou is. www.saworldheritage.com

Getroude en ongetroude mans dra stukke saggemaakte beesvel, amabheshu genoem, wat die rug van die boude tot by die knieë bedek. Voor dra hulle 'n wildbokvel wat in stroke gesny is (izinene) wat die privaatdele bedek. Ander artikels soos krale kan toegevoeg word, indien verkies. Daarbenewens dra volwasse mans 'n ronde koperring (ongiyane) om die kop.

Kos

Vir die Zoeloes is kos 'n belangrike aspek van hul kultuur. Daar word nie net genoeg kos vir mens se eie gesin voorberei nie, maar gewoonlik ekstra gekook net in geval daar besoekers opdaag of 'n vreemdeling aandoen op sy reis na 'n ander bestemming. By geleenthede soos huwelike, begrafnisse of ander samekomste word koeie, bokke of skape ook geslag en saam met ander soorte kos in groot driepootpotte vir die gaste berei.

In die Zoeloe-tradisie het mans en vroue spesifieke aangewese rolle in die huishouding. Kosmaak is tradisioneel deel van 'n vrou se huishoudelike pligte. In die meeste landelike gebiede waar elektrisiteit en kraanwater nie beskikbaar is nie, het die mense nog 'n betreklik tradisionele leefwyse.

Jong vroue maak nog steeds brandhout in die bosse bymekaar en maak vuur vir kosmaakdoeleindes in 'n spesiaal ontwerpte plek op die vloer (iziko). Dit is gewoonlik in die middel van die hut wat as 'n kombuis gebruik word (ixhiba).

In normale huishoudings wissel die soorte stapelvoedsel tussen pap (iphalishi), stampmielies (gekookte, grofgemaalde mieliemeel) en kluitjies. Dit word gewoonlik saam met afval, bone, aartappels, kool, wilde spinasie (umfino), ensovoorts, geëet. By ryk gesinne wat koeie besit, is amasi (suurmelk) geredelik beskikbaar en dit word normaalweg saam met uphuthu ('n soort pap) geëet. Vleis en rys word gewoonlik net op spesiale dae soos Sondae en by groot gebeure geëet. Van die baie soort tradisionele geregte wat berei word, is imbumba, isihobe, isijabane en isijingi:

Imbumba  Imbumba is 'n kombinasie van mieliemeel en izindumba ('n soort boon). Die mieliemeel moet van 'n ou oes wees. Dit word halfpad gekook en dan met izindumba en sout gemeng, en gekook totdat dit reg is om geëet te word.

Isihobe  Isihobe is 'n mengsel van gemaalde, vars mieliemeel met sout en suurdeeg van sorghumbier. Water word in die pot gegooi en balletjies van die mengsel word aan die kant van die pot geplak en gekook.

Isijabane  Isijabane is 'n gereg wat van isolozi ('n soort pampoen), isolozi-blare en gemaalde, vars mieliemeel gemaak word. Die bestanddele word in lae in die pot geplaas. Wanneer dit halfpad gekook is, word brandrissies en sout bygevoeg en die mengsel word geroer totdat dit deurgekook het.

Isijingi Isijingi is 'n mengsel van ibhece ('n groen, ronde groente wat binne geel is, met swart sade), mieliemeel en suiker. Stukke ibhece word gekook en dan met mieliemeel en suiker gemeng. Die mengsel word geroer tot dit gaar is.

Kralewerk

wêrelderfenisterrein, wêrelderfenisgebied, uKhuhlamba Drakensberg Park, uKhuhlamba, Drakensberg, berg, berge, kultuur, Zoeloe-kultuur, Zoeloes, Zoeloe-kunshandwerk, kunshandwerk, kralewerk, kralevoorskoot, tradisionele leefwyse
Zoeloe-kralewerk is uniek vanweë die besondere kleurkombinasies en patrone daarvan, wat ontwerp word om sekere boodskappe tussen mans en vrouens oor te dra. www.saworldheritage.com

Behalwe ander handwerk, is die Zoeloes veral baie bekend vir hul kleurvolle en sierkralewerk. Zoeloe-kralewerk is uniek vanweë die besondere kleurkombinasies en patrone daarvan, wat ontwerp word om sekere boodskappe tussen mans en vrouens oor te dra.

Elke kleur en ontwerp simboliseer sekere betekenisse wat deur die amaqhikiza (vroue wat by hofmaakverhoudings betrokke is) aan die jong vroue (amatshitshi) geleer word. Behalwe die items wat tradisionele genesers dra, hou alle Zoeloe-kralewerk op een of ander manier verband met hofmakery en die huwelik.

Beide getroue en ongetroude vroue gebruik kralewerk om sekere betekenisse aan hul manlike teenhangers en eggenote oor te dra. Hierdie simbole druk gewoonlik hul gevoelens of hul verhouding uit. Afhangende van sekere kleure en patrone wat 'n vrou in haar kralewerk gebruik, kan 'n persoon wat die kodes verstaan, sien of 'n vrou verloof, getroud of ongetroud is of kinders of ongetroude susters het. Hulle kan ook sien uit watter streek 'n vrou kom.

Mans wat 'n maat soek wat belang stel in 'n verhouding, vind hierdie inligting baie nuttig.

Die basiese vorm wat vir hierdie soort kralewerk gebruik word, is 'n driehoek. Die drie hoeke van die driehoek verteenwoordig die gesin: moeder, vader en kind. As die driehoek omgekeer word, simboliseer dit 'n ongetroude man, terwyl 'n regop een (met die basis onder en die punt van die driehoek bo) 'n ongetroude vrou verteenwoordig.

Die kleure wat tradisioneel gebruik word is swart, blou, geel, groen, pienk, rooi en wit. Waardes word aan elke kleur toegeken in groepe van positiewe en negatiewe alternatiewe, buiten wit, wat geen negatiewe konnotasie het nie. Hieronder is 'n tabel waarin die positiewe en negatiewe kleurkodes aangedui word:

Kleur
Positief
Negatief
Blou
Getrouheid, versoek
Vyandigheid, afkeer
Geel
Vrugbaarheid
Dors, verwelking
Groen
Tevredenheid
Siekte, onmin
Pienk
Belofte, hoë status
Armoede, luiheid
Rooi
Liefde, sterk emosie
Woede, hartseer
Swart
Huwelik, vernuwing
Dood, droefheid
Wit
Geestelike liefde, suiwerheid

Behalwe die kombinasie en rangskikkings van kleure, sluit ander faktore wat 'n invloed op die simboliese kodering het die gebruik en aard van 'n voorwerp in. (Sien ook artikels: "Zoeloe-kultuur II: Geleenthede en feeste" en "Zoeloe-danse", asook "Die Zoeloe-koninkryk" en "Die Zoeloe-oorloë (19de eeu)".)

Verified Article