modified on 20 Februarie 2012 at 08:38 ••• 5 279 views

Menseregte II: Suid-Afrika

Vanuit MyFundi

Spring na: navigasie, soek

Inhoud

Menseregte II: Suid-Afrika

Opsomming

Menseregte, of fundamentele regte en vryhede, is daardie regte en vryhede wat vanaf geboorte outomaties aan elke mens toegeskryf word. Nòg die staat, nòg individue kan 'n ander persoon se menseregte wegneem, hoewel die beperking van menseregte in sekere omstandighede regverdigbaar is.

Img00415.jpg
In 1996 is die Waarheid- en Versoeningskommissie, onder voorsitterskap van aartsbiskop Desmond Tutu (bo), in die lewe geroep om die omvang en aard van vorige skendings van menseregte onder die apartheidsbedeling in Suid-Afrika te bepaal en om voorstelle te maak oor hoe om die herhaling van sulke skendings te verhinder. Vandag is dit die taak van die Grondwetlike Hof en die Kommissie vir Menseregte om vir die beskerming van menseregte in Suid-Afrika te sorg. © Associated Press

Suid-Afrika se erfenis ten opsigte van die reg is op twee tradisies gebaseer, naamlik die Westerse regstradisie en inheemse Afrika-tradisie. Daarom is die menseregte wat vandag in Suid-Afrika toegepas word, op sowel die Westerse teorie van natuurreg as die Afrika-filosofie van ubuntu gebaseer.

Westerse teorie van natuurreg

Die ontwikkeling van die idee van fundamentele, natuurgebaseerde regte gaan hand aan hand met die ontwikkeling van die natuurregteorie. Volgens die natuurregteorie is daar 'n hoër stel ewige en universele norme wat nie deur mense geskep is nie, maar in die natuur bestaan. Natuurreg is derhalwe die norm waaraan alle ander reëls en wetgewing moet konformeer en onderworpe moet wees.

Deur die eeue heen het twee verskillende benaderings met betrekking tot die oorsprong van natuurreg ontwikkel. Volgens die eerste benadering het natuurreg 'n goddelike oorsprong; met ander woorde, dit kom van God. Filosowe wat hierdie siening verkondig het, sluit die kerkvader Augustinus, die Moslem-filosoof Ibn-Rushd en die teoloog Thomas van Aquino in. Die tweede benadering het gedurende die Herlewing (1600-1800) ontwikkel en daarvolgens is menslike rasionaliteit self die bron van die natuurreg. Voorstanders van hierdie benadering sluit die belangrike Nederlandse juris Hugo de Groot in, wat ook as die vader van die moderne natuurreg beskou word, sowel as Immanuel Kant, 'n beroemde Duitse filosoof.

Dit was egter eers gedurende die sewentiende eeu dat die idee ontwikkel het dat natuurreg uit onvervreembare menseregte soos die reg op lewe, vryheid en eiendom bestaan. Hierdie idee is die eerste keer deur 'n Engelse filosoof, John Locke, voorgestel. Volgens hom was die staat se enigste funksie om die basiese menseregte van sy burgers te beskerm. Die staat se mag is dus beperk in die sin dat dit nie hierdie menseregte mag skend nie.

Ná die Tweede Wêreldoorlog het die term menseregte deel geword van die algemene woordeskat van die internasionale gemeenskap. Die oorlogsmisdade wat gedurende daardie oorlog gepleeg is, het die wêreld laat besef dat dit nodig is om menseregte te erken en te beskerm. Lande vanoor die hele wêreld het deelgeneem aan die formulering en - uiteindelik - die ondertekening van internasionale verdrae met betrekking tot hierdie aangeleenthede.

Nasionale regerings en individuele leiers wat hul burgers se menseregte skend, moet nou aan die internasionale gemeenskap en sy tribunale verantwoording doen. Lande wat nie die internasionale stel standaarde onderskryf nie, loop die risiko dat hulle ekonomies geïsoleer sal word, of dat daar in uiterste gevalle oorlog teen hulle verklaar sal word.

Afrika-filosofie van ubuntu

Ubuntu is uitdruklik in die naskrif van die tussentydse Grondwet genoem as 'n bron van die onderliggende waardes van die Grondwet. Die Grondwetlike Hof het aangedui dat hy inheemse waardes (dit is, ubuntu) sal gebruik in die vertolking van die Handves van Menseregte en dus 'n spesifiek Suid-Afrikaanse opvatting van menseregte sou ontwikkel.

Die Afrika-filosofie van ubuntu behels dat 'n persoon se lewe betekenisvol is as daardie persoon in harmonie met ander mense, die natuur, die gode en die voorvaders saamleef. Ubuntu ken vryheid aan 'n persoon toe, nie as 'n geïsoleerde individu nie, maar as lid van 'n gemeenskap, en kan ongeveer vertaal word as die gees van menslikheid, maatskaplike geregtigheid en billikheid.

Ubuntu is ook belangrik omdat dit die belangrikheid van die regte van groepe beklemtoon, in teenstelling met die regte van individue alleenlik. Gevolglik is groepregte as "derde-generasie-regte" by die Suid-Afrikaanse Handves van Menseregte ingesluit.

Menseregte in Suid-Afrika voor 1994

Apartheid-in-Suid-Afrika.jpg
Swart mans op pad na hul township loop verby 'n bord wat wit mense waarsku om versigtig te wees. Tydens apartheid is swart mense se regte ingekort en moes hulle in gesegregeerde gebiede woon.

Die persepsie bestaan dat menseregte eers met die nuwe regsorde in 1994 deel van die Suid-Afrikaanse reg geword het.

Dit is egter nie heeltemal waar nie. Die teorie van natuurreg en die idee van onvervreembare regte vorm deel van ons Romeins-Hollandse regserfenis en ons gemene reg.

Dit was dus nie die afwesigheid van menseregte nie, maar die onvermoë van die howe om die individu te beskerm wat in die verlede tot die skending van menseregte gelei het.

Die hoofredes vir hierdie onvermoë het onder meer ingesluit dat die Parlement as die hoogste gesag beskou is (volgens die beginsel van parlementêre soewereiniteit), en dat die howe òf geen mag gehad het om wetgewing te toets nie, òf slegs beperkte mag om te toets of daar aan die voorgeskrewe prosedures voldoen is.

Menseregte in Suid-Afrika vandag

Vandag word menseregte amptelik erken in die Handves van Menseregte, soos in Hoofstuk II van die finale Grondwet van 1996 vervat. Die beginsel van parlementêre soewereiniteit geld nie meer nie en in die plek daarvan word die Grondwet nou as die hoogste reg beskou. Die howe het nou die bevoegdheid om sowel die prosedures as die inhoud van enige wetgewing te toets en om enige wetgewing wat nie aan die standaarde van die Grondwet voldoen nie, ongeldig te verklaar.

Soos die Grondwet, mag die Handves van Menseregte gewysig word slegs met die steun van 'n twee-derde-meerderheid van die Nasionale Vergadering en met die steun van ses van die nege provinsies.

Die Handves van Menseregte geld sowel vertikaal as horisontaal. Dit beteken dat 'n individu se regte onderskeidelik teen skending deur die Staat en teen skending deur ander individue beskerm word. Die Handves beskerm 'n omvattende stel menseregte en menslike vryhede. Ten einde die aard van hierdie regte te verstaan, kan ons hulle in drie groepe verdeel, naamlik wat ons eerste-, tweede- en derde-generasie-regte kan noem:

(1)     Eerste-generasie-regte is burgerlike en politieke regte en word as tipies Westerse regte beskou. Dit is regte wat gebore is uit revolusies en uiteindelik in internasionale menseregte-dokumente soos die Amerikaanse Verklaring van Onafhanklikheid en die Universele Verklaring van Menseregte ingesluit is. Die doel van hierdie regte is om individue teen staatsinmenging te verdedig. In die Suid-Afrikaanse Handves van Menseregte sluit dit die regte op lewe, gelykheid, menswaardigheid, privaatheid, eiendom en 'n billike verhoor in, asook vryheid van geloof, uitdrukking, assosiasie en beweging, om maar net 'n paar te noem.

(2)     Tweede-generasie-regte is sosio-ekonomiese regte wat 'n verpligting op die Staat plaas om sekere basiese goedere en dienste te verskaf. Hierdie regte sluit die reg op kos, behuising, basiese opvoeding en toegang tot gesondheidsorg in.

(3)     Derde-generasie-regte bevorder groepregte soos die reg op 'n skoon omgewing en die reg op regstellende optrede.

Beperking en skending van menseregte

Trclogo.jpg
In 1996 is die Waarheid- en Versoeningskommissie in die lewe geroep om die omvang en aard van vorige skendings van menseregte te bepaal. Op die foto is die logo van die WVK.

Menseregte mag beperk word slegs indien die beperking redelik en regverdigbaar is in 'n oop, demokratiese samelewing wat gebaseer is op menswaardigheid, gelykheid en vryheid, met die inagneming van sekere faktore soos die aard van die reg en die doel van die beperking.

In 1996 is die Waarheid- en Versoeningskommissie in die lewe geroep om die omvang en aard van vorige skendings van menseregte te bepaal en om voorstelle te maak oor hoe om die herhaling van sulke skendings te verhinder. Vandag is dit die taak van die Grondwetlike Hof en die Kommissie vir Menseregte om vir die beskerming van menseregte in Suid-Afrika te sorg.

(Sien ook: "Menseregte I: Afrika" en "Menseregte III: Internasionaal".)

Liezl Gaum

Verified Article