Duitsland se koloniale oorloë
Vanuit MyFundi
Inhoud |
Duitsland se koloniale oorloë
Abushari-rebellie (1888-1890)
Die rebellie is begin deur Abushari ibn-Salim el-Harthi, 'n ryk Arabiese handelaar. Die fokus daarvan was teenkanting teen die verdrae en beleide van die Duits-Oos-Afrika-handelsmaatskappy. Dit het sterk ondersteuning van die kusstreek geniet en baie dorpe is deur die rebelle verower. Dit is slegs vanweë ingryping deur die Duitse Reich ná die vorming van die Schutztruppe (opgekommandeerde koloniale troepe onder Duitse aanvoering) onderdruk.
Van belang vir Suid-Afrikaners is die feit dat die kern van die Schutztruppe 400 Sjangaan-huursoldate ingesluit het, wat afstammelinge was van vlugtelinge van die Zoeloes.
HeHe-oorlog (1891-1898)
Duitse administrateurs en wetstoepassingsmagte was dun gesaai en dit het gelei tot die opstand van die HeHe in die suidelike binneland onder hoofman Mkwawa. Die Duitse kommissaris, Emil von Zelewski, is gelas om hom "respek te leer" en hy het opgeruk met 320 askari's, 150 draers en 'n handjievol Duitse offisiere wat dorpies afgebrand en die omgewing in puin gelê het. Hy het ook gesante van Mkawa doodgemaak. Die kolon is in 'n lokval gelei en feitlik uitgewis.
In vergeldingsaanvalle het Mkwawa 'n Duitse garnisoen by Kondoa verwoes. Geleidelik het die Duitsers politieke alliansies opgebou om die HeHe te isoleer. In Oktober 1894 het 'n groot Duitse mag Mkwawa se magte by Iringa uitgeroei. Mkwawa het gevlug en met 'n vier-jaar-lange guerrilla-oorlog begin, wat in 1898 met sy selfmoord geëindig het.
Maji-Maji-opstand (1905-1907)
Wrokkige gevoelens teenoor Duitse, Asiatiese en Arabiese handelaars het gelei tot 'n opstand deur katoenwerkers wat spoedig in 'n algemene opstand in die suide verander het. Sendingstasies, winkels en plantasies tussen Kilosa en Liwele is verwoes. Baie stamme het begin meedoen, maar nie die HeHe, wat aan die kant van die Duitsers geveg het nie.
Maji-Maji beteken "toorwater" en verwys na 'n geloof dat 'n drankie van water en giersgras (Engels: "millet") koeëls sou keer; gevolglik het die krygers, wat geglo het dat hulle immuun teen geweervuur was, in onverskillige golwe aangeval en is in hul duisende met masjiengeweervuur afgemaai.
Nadat die rebelle-offensief beëindig is, het die Duitsers tot die aanval oorgegaan, maar die rebellie het eers in 1907 heeltemal opgehou. Dit het die lewens van 75 000 inwoners en etlike honderde Duitsers geëis.
Eerste Wêreldoorlog (1914-1918)
Die Duitse bevelvoerder, generaal Von Lettow Vorbeck, het met 3 000 Duitse troepe en sowat 12 000 askari's daarin geslaag om 'n veel groter Geallieerde mag te kniehalter. Toe Suid-Afrika se generaal Jan Smuts in Maart 1916 die bevel oorgeneem het, was daar 45 000 troepe tot sy beskikking, insluitende 19 000 Suid-Afrikaners. Die Duitsers het tot die einde toe uitgehou.








