modified on 22 Januarie 2012 at 21:17 ••• 3 128 views

Duitsland III: Die geskiedenis van die Holocaust

Vanuit MyFundi

Spring na: navigasie, soek

Inhoud

Duitsland III: Die geskiedenis van die Holocaust

Opsomming

Die Schutzstaffel (die SS) was by uitnemendheid die instrument vir die uitvoering van Hitler se wil. Daardie wil was om die grootsheid van Duitsland op brutale wyse te laat geld deur die Jode, die swakkes en die hulpeloses uit te wis en die Slawiese volke onderhorig te maak. Die Holocaust (soos die menseslagting van die Tweede Wêreldoorlog bekend geraak het) is die grootste misdaad in die geskiedenis en een wat die twintigste eeu bybly as 'n ikoon van die uiterstes van boosheid waartoe die mens in staat is.

Neurenberg-verhoor 1945-46
Voormalige Nazi-leiers in die beskuldigdebank tydens die Neurenberg-verhoor (1945-1946). Voorste ry, van links: Göring, Hess, Von Ribbentrop, Keitel, Kaltenbrunner, Rosenberg, Frank, Frick, Streicher, Funk, Schacht. Agterste ry, van links: Dönitz, Raeder, Von Schirach, Sauckel, Jodl, Von Papen, Seyss-Inquart, Speer, Von Neurath, Fritsche. Tydens dié verhoor is die Gestapo tot 'n misdadige organisasie verklaar. © Ensiklopedie van die Wêreld

Die Nazi-denkbeeld van Duitse grootsheid het berus op twee mites: die Ariër as simbool van die mensdom se beste eienskappe en die Jood as verteenwoordiger van die heel ergste daarvan. Soos die geskiedkundige Alan Bullock (Hitler - A Study in Tyranny) dit gestel het: "There can be little doubt that Hitler believed what he said about the Jews... In whatever direction one follows Hitler's train of thought, sooner or later one encounters the satanic figure of the Jew. The Jew is made the universal scapegoat."

Demokrasie, parlementarisme, persvryheid, liberalisme, die klassestryd, moderne kuns, prostitusie, rassevermenging - alles is deur Hitler beskou as instrumente wat deur die Jood uitgedink is om die Ariese volke aan sy oorheersing te onderwerp.

Binne twee maande nadat Hitler in Januarie 1933 aan bewind gekom het, is die eerste konsentrasiekamp in Dachau buite München gebou. Dit was die model vir al die ander wat sou volg. Die wagte by Dachau en by alle toekomstige kampe is getrek uit die geledere van die SS, wat teen 1934 die onbetwiste toepasser van Nazi-dogma was.

GENOSIDE (VOLKEMOORD)

"Genoside" – van die baster-Grieks "genos" (volk of ras) en Latyns "cide" (doodmaak) – dui op die vernietiging van groepe mense van 'n bepaalde nasionaliteit, godsdiens, taal, ras of politieke oortuiging. Dié begrip het ná die Tweede Wêreldoorlog ontstaan as deel van 'n internasionale poging om die uitwissing van volke (soos dié van die Jode in Nazi-Duitsland) te verhinder. Op 9 September 1949 het die Algemene Vergadering van die Verenigde Volke-Organisasie (VVO - nou die Verenigde Nasies of VN) in Parys die teks aanvaar van 'n verdrag insake die voorkoming en bestraffing van genoside. In artikel 1 van dié verdrag word vasgelê dat genoside sowel in oorlogs- as in vredestyd 'n misdryf is kragtens die Volkereg. Tot 1969 het 70 lande die verdrag onderteken, hoewel die VSA, Groot-Brittanje en Rusland dit nie gedoen het nie. Gevolglik was dit nie oral afdwingbaar nie - soos in Biafra, Burundi en die Soedan in die jare daarna.

Die SS en die Gestapo

Die hoof van die SS was Heinrich Himmler, 'n sleutelfiguur in die vervolging van die Jode en in die beplanning en uitvoering van die "finale oplossing", die doelbewuste uitwissing van Jode in Nazi-besette Europa. Die Gestapo (geheime polisie), wat in 1933 deur Hermann Goering in Pruise gestig is, het in 1936 onder bevel van Himmler gekom.

GESTAPO

Die Gestapo (afkorting van Geheime Staatspolizei), die Duitse geheime staatspolisie, is op 26 April 1933 deur Göring op die been gebring, met die spesifieke opdrag om alle vyande van die nasionaal-sosialisme te vervolg en onskadelik te maak. In 1934 is die leierskap deur Himmler oorgeneem, waarna Heydrich met die reorganisasie belas is. Met die sentralisering van die Duitse polisiemag in 1936 is die Gestapo as afdeling IV opgeneem in die RSH, die Reichs Sicherheits-Hauptamt, en onder leiding van Kaltenbrunner gestel. Die Gestapo het eers in Duitsland en later ook in die besette gebiede meedoënloos opgetree. Tydens die verhoor van Neurenberg (1945-1946) is die Gestapo tot 'n misdadige organisasie verklaar.

Dachau is gebou nadat die Reichstag deur brand vernietig en 'n noodtoestand afgekondig is. Die beginsel van "beskermende aanhouding" wat oorspronklik op kommuniste en regsgesindes gemik was, is mettertyd uitgebrei om alle politieke vyande van die Nazi's in te sluit. Die konsentrasiekampe het die wet omseil. Aangehoudenes het geen regte gehad nie. Hulle kon verneder, uitgehonger, gemartel en doodgeskiet word - en dit is wat al hoe meer gebeur het.

Die SS-wagte was bo die regstelsel verhewe. Inwoners was Untermenschen ("sub-mense") en is, veral gedurende die oorlogsjare, as geskikte materiaal vir groteske mediese eksperimente beskou. Nogtans het die getalle ná die aanvanklike sterk optrede (26 789 aangehoudenes, hoofsaaklik kommuniste, in Julie 1933), tot net 7 500 vroeg in 1937 in vier kampe afgeneem: Dachau, Sachenshausen, Buchenwald en (vir vroue) Lichtenburg.

Die getalle sou in 1938 skerp styg ná die Kristallnacht-pogrom, die anschluss (aansluiting of samesmelting) met Oostenryk en die inlywing van die Sudetenland. Die dramatiese toename in getalle het egter ná die uitbreek van oorlog gekom.

Die Jode

Nadat die Nazi's aan bewind gekom het, het hulle onmiddellik en stelselmatig teen die Jode begin optree. Die term 'Jood' is omskryf sodat diskriminasie gewettig kon word. Enigiemand wat minstens drie Joodse grootouers gehad het, was outomaties 'n Jood, ongeag daardie persoon se geloof.

Halfjode is ook as Joods beskou as hulle die Joodse geloof aangehang het of met 'n Jood getroud was. Alle ander halfjode en diegene met 'n enkele Joodse grootouer was mischlinge (halfbloed). Jode en mischlinge was "nie-Ariërs".

Anti-Semitiese optrede het met skrikwekkende spoed en deeglikheid plaasgevind. Nie-Ariërs, met inbegrip van wêreldbekende geleerdes, is uit hul poste gedwing. Die staatsdiens is gesuiwer van Jode en linksgesindes. Hitler se Neurenberg-wette van 1935 het Duitsers van Joodse afkoms hul burgerskap ontneem en ondertrouery met Duitsers verbied.

Ná 'n verposing om die gladde verloop van die Olimpiese Spele in Berlyn in 1936 te verseker, was toestande gou weer onhoudbaar. Maatreëls wat die professies en verskillende vertakkinge van die handel geraak het, het die Jode ontsettend benadeel. Teen 1938 kon die meeste Jode nie meer werk nie en was hulle op hul kapitaal of op liefdadigheid aangewese.

Nazi-pogrom

In November daardie jaar, op Kristallnacht ('n ironiese verwysing na brekende glas), is 7 000 Joodse sake-ondernemings - almal teen hierdie tyd spesiaal geïdentifiseer - en sinagoges regdeur Duitsland in 'n Nazi-georkestreerde pogrom verwoes. Niemand is ooit van die misdade aangekla nie en Jode is 'n boete van 1,25 miljard mark opgelê om te betaal vir die skade wat deur die Staat veroorsaak is.

Jode mag nie Duitse skole en universiteite bygewoon het nie en is verban uit konsertsale, sportarenas en so meer. Jode se pensioene is gesny en die professies was vir hulle geslote. Joodse dokters is verbied om te praktiseer, behalwe in moeilike omstandighede, en alle Jode was verplig om teen die laaste dag van 1938 'n ID-kaart by hulle te dra. Later is hulle gedwing om 'n geel Ster van Dawid te dra.

In Februarie 1939 is Jode verplig om alle goud, silwer en edelstene in hul besit te oorhandig. Al hoe meer van hulle is tot gedwonge arbeid verplig. Ander is uit hul huise en in 'gemeenskaplike Joodse huise' gesit.

Tot met die uitbreek van oorlog in September 1939 was die Nazi-beleid om, kwansuis deur emigrasie, van die Jode ontslae te raak, hoewel Hitler en andere reeds 'n drastieser oplossing in gedagte gehad het. Daar was sprake dat Madagaskar 'n Joodse tuisland sou word. Niks het daarvan gekom nie. 'n Paar honderdduisend Jode het uit Duitsland gevlug. Op dié wat agtergebly het, het 'n verskriklike lot gewag.

"Finale oplossing"

Die verowering van Pole het twee miljoen Jode in die Duitse magsfeer gebring. Die val van Frankryk, die Laelande, Denemarke, Joego-Slawië en Griekeland en die besetting van groot gebiede van die Sowjet-Unie het nog miljoene ingebring. Almal het die spit van Hitler se haat afgebyt en sou onder die verskriklike gevolge daarvan ly.

Die oorlog het 'n einde gebring aan enige plan wat bestaan het om die "Joodse probleem" deur emigrasie of uitdrywing op te los. Teen die einde van 1941 het die oplossing - waaroor daar baie gepraat is in dokumente wat behoue gebly is, al is dit in eufemistiese taal om die volle afgryse daarvan te verberg - uitgekristalliseer in 'n beleid van uitwissing. Groepe soos die sigeuners, gemeenskappe soos die Jehova-getuies en individue soos homoseksuele is geteiken om doodgemaak te word.

In 1939 het Hitler bevel gegee dat geestelik en liggaamlik gestremdes die genadedood toegedien moes word en 120 000 het op hierdie wyse gesterf, baie van hulle pasgebore babas. Die oorlog het 'n enorme toename in die aantal, geografiese verspreiding en soorte kampe - transito-, krygsgevangene-, dwangarbeid- of doodskampe - meegebring.

Eliminasie

Ná die val van Pole het Hitler "spesiale politieke pligte" aan veldeenhede van die SS en die Sicherheitsdienst (SD) in daardie land opgedra. Hierdie eenhede, kommando's van die Einsatzgruppe, was gemotoriseer. Aanvanklik het hulle onder militêre beheer aan die front geopereer, maar verder van die front af het hulle al groter mate van vryheid geniet. Hul volle onafhanklikheid is vinnig gekonsolideer. Hul taak was om "alle elemente wat vyandig teenoor die Ryk" was, te elimineer. Die Poolse leierskap en die Jode was die vernaamste teikens.

Die eenhede was vir brutale menseslagtings verantwoordelik, veral nadat Rusland in Junie 1941 binnegeval is. Teen daardie tyd is die "finale oplossing" uitgevoer. In September daardie jaar is byna 34 000 Jode in die Babi Yar-rawyn in Kiëf met masjiengewere doodgeskiet uit weerwraak vir 'n reeks bomontploffings in die hart van die stad. Die einsatzkommando's se optrede sou 'n paar maande lank voortduur en die aantal dooies het uiteindelik 100 000 beloop. Dit sluit Oekraïners, sigeuners en psigiatriese pasiënte in.

Binne weke is nuwe doodmaakmetodes gebruik. Slagoffers is in vragmotors vergas. In Desember het Chelmno die eerste doodskamp geword. Die slagoffers daar is deur koolstofmonoksieddampe vergas. Terselfdertyd is eksperimente op Russiese krygsgevangenes in Auschwitz gedoen deur blousuur, wat in Duitsland onder die handelsnaam Zyklon-B bekend gestaan het, te gebruik.

Auschwitz

Auschwitz en sy satelliet, Birkenau, het verreweg die grootste van die Nazi-kampe geword. Hulle het 'n tweeledige doel gedien - uitwissing en 'n bron van slawe-arbeid. Nuwe aankomelinge het by hul aankoms per trein 'n "selekteringsproses" deurgemaak en sommige het die gaskamers ontkom, afhangende van die arbeidsvereistes van beide die SS-beheerde en ander nywerhede in die gebied.

Besendings mense sou uiteindelik uit alle dele van die besette Europa by Auschwitz aankom, maar aanvanklik was die grootste getalle afkomstig van Joodse ghetto's wat van 1940 af in Pole geskep is. Hulle het die oorstaangebiede vir uitwissing geword. Die SS het die eenrigting-derdeklaspassasierstarief vir elke gedeporteerde aan die spoorweë betaal. Wanneer meer as 1 000 persone in 'n trein gedruk is, is 'n halfprys-groeptarief toegelaat.

Die Duitsers het uit hul pad gegaan om nuwe aankomelinge om die bos te lei. "Werk Maak Vry" het op die ingang van Auschwitz gestaan. Nuwe aankomelinge is soms deur 'n orkes verwelkom - asook deur gewapende wagte met swepe en honde. Diegene wat geselekteer is om te sterf, is na die uittrekkamers gemarsjeer en beveel om al hul klere uit te trek sodat hulle kon stort voordat hulle in 'n vertrek ingejaag en vergas is.

Gevangenes het enigiets wat versteek of die moeite werd was om te neem, versamel - goudvulsels of hare, byvoorbeeld - voordat die dooies in kalkputte of later in verbrandingsoonde gegooi is.

Interneringskampe en ghetto's

Die grootste Joodse ghetto was in Warskou. Dit het 400 000 mense in haglike toestande bevat. Daar is op 22 Julie 1942 met die vernietiging van die ghetto begin toe duisende mense elke dag afgevoer is na nabygeleë Treblinka, waar meer as 250 000 binne sewe weke vermoor is - die grootste en vinnigste slagting van die oorlog. Toe 65 000 oor was, het 'n opstand in die ghetto uitgebreek wat die Duitsers drie weke geneem het om te onderdruk.

Treblinka is aanvanklik bestuur deur dr Irmfried Eberl, 'n dokter wat voorheen vir die dood van 18 000 mense ingevolge die genadedoodprogram verantwoordelik was. Hy is ná 'n maand in die pad gesteek. Sy oortreding was sy versuim om vinnig genoeg van die liggame ontslae te raak sodat daar nie paniek gesaai word wanneer treine aankom nie. Misleiding was absoluut noodsaaklik.

Sowat 700 000 Jode het in Treblinka gesterf, ongeveer 150 000 Jode en 5 000 sigeuners in Chelmno, 600 000 Jode in Belzec, 200 000 in Sobibor en meer as miljoen Jode en 4 000 sigeuners in Auschwitz-Birkenau. Omdat dit 'n arbeids- en 'n doodskamp was, het Auschwitz 'n groot semi-permanente bevolking gehad. Die ander doodskampe is dikwels leeggemaak, behalwe vir die wagte en gevangenes wat gehou is om van liggame ontslae te raak.

Treblinka is ná 'n opstand deur hierdie gevangenes gesluit. Daar was ook Joodse opstande in Sobibor en Auschwitz.

Doodsnikke van die oorlog

Met Duitsland op pad na 'n nederlaag en die vyandelike leërs op pad na die kampe van dood en lyding, het die Nazi's buitengewone pogings aangewend om hul misdade te verberg. Massagrafte is deur gevangenes met voetboeie gegrawe en die ontbindende lyke, van goudvulsels en waardevolle artikels gestroop, is in die vuur gegooi. Bene is tot stof vergruis. Ná hul grusame taak is die gevangenes geskiet en is daar ook van hul liggame ontslae geraak.

Etlike duisende gevangenes is gedwing om na die Reich te marsjeer; onberekenbare getalle is doodgeskiet of het van honger, koue en uitputting omgekom. Honderde duisende van dié wat die kampe in Duitsland bereik het, is aan honger of siekte dood voor en nadat hul bevryders opgedaag het. Die pogings om weg te steek wat gebeur het, het misluk. Die kampe en die SS het nougeset rekord van alles gehou.

Miljoene Jode, Slawiërs, sigeuners, homoseksuele, Jehova-getuies, kommuniste en ander wat die teiken van die Nazi's was, het in die Holocaust gesterf. Die Joodse sterftes het meer as vyf miljoen beloop: ongeveer drie miljoen in moordsentrums en ander kampe, 1,4 miljoen in skiet-operasies en meer as 600 000 in ghetto's.

Die absolute afgryse van die Holocaust het die wêreld dekades daarna van skok laat steier. Monumente, boeke en rolprente hou die bewustheid van die grootste misdaad in die geskiedenis van die mensdom lewend en dien as 'n herinnering aan menslike boosheid wat hand-uit geruk het.

(Sien ook "Neurenberg-verhoor", "Die Holocaust deur middel van koeëls" en "Suid-Afrikaanse Jode en die Holocaust".)

Bill Krige

Verified Article