Die geskiedenis van onderwys in Suid-Afrika I
Vanuit MyFundi
Inhoud |
Die geskiedenis van onderwys in Suid-Afrika I: Tradisionele Afrika-onderwys
Opsomming
Die geskiedenis van onderwys in Suid-Afrika het lank voor Jan van Riebeeck se aankoms in 1652 begin. Tradisionele Afrika-onderwys was die verantwoordelikheid van die hegte familie- en stamgroepe, wat kinders toegelaat het om deur hul aktiewe deelname aan die alledaagse lewe van die stam te leer.
Inisiasieseremonies het voorheen 'n belangrike rol in die oorgang van die kind na volwassenheid gespeel. Die tradisionele Afrika-opvoeding word egter tans ondermyn deur toenemende verwestering, verstedeliking en globalisering. © Fotozone
Tradisionele Afrika-onderwys
Toe Nelson Mandela tydens die Rivonia-verhoor in 1964 in die beskuldigdebank gestaan het, het hy oor sy opvoeding gepeins: "Tydens my jeug in die Transkei het ek na die oudstes van die stam geluister as hulle stories oor die ou dae vertel het. Sommige van die verhale wat hulle vir my vertel het, het oor die oorloë gehandel wat ons voorvaders gevoer het om die vaderland te verdedig.
"Die name van Dingaan en Bambata, Hintsa en Makana, Squngthi en Dalasile, Mosjesj en Sekoekoeni is geloof as die trots van die ganse Afrika-nasie. Ek het toe gehoop dat die lewe aan my die geleentheid sou bied om my mense te dien en my eie nederige bydrae te lewer vir hulle vryheidstryd."
Nelson Mandela se woorde weerspieël die kernrol wat tradisionele opvoeding oor die eeue heen in die Afrika-gemeenskappe gespeel het. In die tradisionele Afrika-gemeenskappe was die opvoeding van kinders in die hegte familie- en stamgroepe die wyse waarop militêre-, landbou- en oorlewingsvaardighede en sosiale, kulturele en godsdienstige waardes oorgedra is. Kinders is vir die lewe voorberei deur aktiewe deelname aan die kulturele lewe en arbeidsaamheid van die stam.
Hulle is onderrig om die vaardighede van boerdery, visvang, jag, weef, kookkuns, pottebakkery, smeewerk en houtsneewerk te bemeester deur nou saam te werk met hulle ouers en ander lede van die stam. Ontspanningsaktiwiteite het bestaan uit dans, stoei, speelgevegte (byvoorbeeld gevegte met stokke wat vandag nog deur jong swart jeugdiges beoefen word), tromspeel en akrobatiese vertonings.
Intellektuele opleiding het volgens A Babs Fafunwa die volgende ingesluit: "die studie van plaaslike geskiedenis, legendes, die omgewing (plaaslike aardrykskunde, fauna en flora), poësie, redevoering, raaisels, spreuke en die vertel van stories en die vertel van 'n storie deur meer as een verteller."
Inisiasie
In Suid-Afrika, soos ook algemeen die gebruik is in baie ander dele van Afrika, kulmineer die opvoeding van die jeug in die inisiasieseremonies wanneer seuns en meisies puberteit bereik. Hierdie seremonies is onder die belangrikste rituele in die kulturele lewe van die stam. By sommige stamme ondergaan seuns die inisiasieseremonies individueel, maar in die meeste gevalle neem hulle as groepe deel.
Afsondering van die stam in spesiale hutte, die bevordering van fisieke taaiheid, onderrig in die stamwette en tradisies, seksonderrig en rituele besnyding is elemente wat deel was van die inisiasieseremonies van baie stamme. Xhosa-seuns moet vandag nog die inisiasieseremonie ondergaan en die Khwetha of besnydingshut besoek om as mans beskou te word en om geskik geag te word om te trou. Die volgende uittreksel van die amptelike Transkei-webruimte beskryf die inisiasie:
"Die seuns smeer hul liggame met wit sandsteen en draai hulself soms in 'n biesieromp toe en dra 'n kegelvormige biesiehoofbedekking met 'n masker wat soos 'n kuif hang. Hulle voer rituele danse uit waartydens hulle diere naboots, gewoonlik 'n bul, terwyl hulle met hulle hakke op die grond stamp en in die lug opspring.
"Uiteindelik, as die besnydingsdag aanbreek, verbrand hulle alle items wat hulle tydens die rites gebruik het, insluitende die hutte. Ná die besnydenis moet hulle hul voorhuide begrawe en word hulle na die rivier toe aangejaag terwyl hulle deur die inisieerders geslaan word.
"Uiteindelik word al die wit sandsteen van hul liggame afgewas en daarmee saam al die oorblyfsels van hul jeug. Hulle keer na hul statte terug en word met rooi oker gesmeer wat vir nog drie maande lank nie verwyder word nie. Hulle is eindelik manne!"
Militêre opleiding het 'n belangrike rol in die Zoeloe-seuns se oorgang tot volwassenheid gespeel. Hulle het hulle opleiding as amanguba (kombersseuns) begin. Later word hulle insiswa (rekrute) voordat hulle tot die rang van die amabutho (regimente) toetree tydens 'n grootse seremoniële parade onder leiding van die hoofman.
Vandag ontvang talle Zoeloe-seuns nog steeds op vyftienjarige ouderdom hulle eerste spies van hul vaders en woon hulle "militêre kampe" by waar hulle kennis maak met die militêre legendes en suksesse van die verlede en geleer word van die respek en eer wat met die regimente geassosieer word.
Inisiasie by meisies
Swart meisies is afsonderlik van die seuns geïnisieer tydens seremonies wat deur die ouer vrouens van die stam waargeneem is. Die meisies is ook van die res van die stam afgesonder en moes in hutte bly wat spesiaal vir die inisiasie opgerig is.
Hulle het opleiding ontvang oor sake wat verband hou met die vrou, huishoudelike en landbouvaardighede. Seks- en geslagsonderrig (die vrou se houding en gedrag teenoor mans en haar toekomstige skoonfamilie) het 'n integrale deel van die opleiding gevorm.
Net so is onderrig in die stamtradisie (deur middel van liedere en danse) en fisieke gehardheid ook ingesluit. Meisies het gewoonlik aan die inisiasierites deelgeneem tydens hul eerste menstruasie.
Botsing van kulture
In 'n artikel oor die geskiedenis van onderwys in Afrika haal Aïcha Bah-Diallo (Direkteur: Afdeling van Basiese Onderwys, UNESCO) vir Paul Désalmand aan betreffende die eienskappe van tradisionele onderwys in Afrika:
1. Onderwys vind enige plek plaas;
2. Onderwys vind enige tyd plaas;
3. Alle lede van die gemeenskap bied onderwys aan;
4. Onderwys skakel nou met die omgewing;
5. Onderwys hou direk verband met die behoeftes van die gemeenskap;
6. 'n Individu word vroeg in sy lewe deel van die produksie;
7. Opleiding ontwikkel nie net vaardighede nie, maar bevorder ook 'n gevoel van deel wees van 'n gemeenskap en dienslewering aan 'n gemeenskap;
8. Onderwys raak almal;
9. Onderwys het 'n allesomvattende karakter;
10. Die samelewing streef daarna om 'n ewewig te behou;
11. Die magiese speel 'n grondliggende rol;
12. Godsdiens en die heilige dinge is in alle aspekte van die lewe teenwoordig;
13. Ouers speel 'n belangrike rol in die onderwys van hul kinders;
14. Om ouer te word, word as 'n positiewe ontwikkeling beskou;
15. Die verhouding tussen mense is 'n persoonlike verhouding;
16. Modelle vir die onderwys en samelewing word deur groepe ontwikkel wat besorg is oor hul eie tale;
17. Kennis word mondelings oorgedra.
Geskiedkundige ontwikkelings soos kolonialisme het tot die verwatering van baie van die tradisionele beginsels gelei. Kolonialisme het die waarde van inheemse kennis en gebruike ondermyn. Cecil John Rhodes het soos volg geredeneer: "Dit is nou eenmaal so dat die Britte die beste mense in die wêreld is, wat die hoogste ideale betreffende ordentlikheid, geregtigheid, vryheid en vrede het; hoe'n groter deel van die wêreld ons bewoon, hoe beter is dit vir die mensdom."
Tradisionele Afrika-opvoeding het nie voldoen aan die Westerse persepsies van wat onderwys behoort te omsluit nie; daarom is dit deur sommige as primitief en barbaars beskou.
Ten tye van die sogenaamde Stormloop om Afrika het Westerlinge nie besef dat 'n onderwysstelsel die kulturele, beroeps- en religieuse behoeftes van 'n bepaalde samelewing in 'n besonderse geskiedkundige en sosiale konteks moet aanspreek nie. Tradisionele Afrika-opvoeding was besonder suksesvol in die oordrag van waardes, gebruike en vaardighede wat noodsaaklik is vir oorlewing en die bestendige groei van 'n landelike gemeenskap.
Dit het die voortgang en bestendigheid in die stamgebonde samelewings vir talle geslagte verseker.
Apartheidsregering
Dit is ironies dat dit die apartheidsregering in Suid-Afrika was wat hom ten gunste van 'n meer Afrika-gesentreerde onderwysstelsel uitgespreek het wat swart kinders toegelaat het om in hul moedertaal te studeer om hulle voor te berei vir werk in hul eie kultuurverband. Dit het aanleiding gegee tot die berugte Bantoe-onderwysstelsel, wat in 1953 ingestel is.
Teoreties het dr H F Verwoerd se argument dat die kurrikulum vir swart leerders te eurosentries is, soos 'n oorwinning vir tradisionele Afrika opvoeding geklink. In die praktyk het die Bantoe-onderwysstelsel egter die doel gedien om die minderwaardige posisie van die swart werkers in die ekonomie en arbeidsmark te onderskryf.
Stedelike vs landelike omgewing
Toenemende verstedeliking en globalisasie het ook 'n rol gespeel om tradisionele onderwysstrukture te ondermyn. Dit het toenemend moeiliker vir swart ouers geword om tradisionele kulturele waardes in die stadsomgewing oor te dra, waar die druk van kulturele assimilasie en sosiale kruisbestuiwing meer intens beleef word as in landelike gebiede.
In die stamgebonde samelewing leer die jongmense dat die welstand van die gemeenskap belangriker is as die behoeftes van die individuele lede van die gemeenskap. Individue kan slegs werklik gelukkig wees "indien hulle die illusie van geluk-in-isolasie aflê sodat hulle ware geluk mag bereik deur 'n openheid ten opsigte van ander te hê, nie ter wille van persoonlike bevoordeling nie, maar om saam met almal 'n nuwe werklikheid te skep wat groter as individue is" (A Babs Fafunwa).
In 'n globale, Westerse ekonomie is die kultuur van selfhandhawing en selfverwesenliking egter dominant. Stamgebonde samelewings streef na die behoud van die status quo en 'n voortsetting van hul geskiedkundige erfnis. Andersyds vereis 'n tegnologies-gedrewe Westerse ekonomie vinnige verandering en aggressiewe vernuwing as die enigste wyse om te oorleef.
By die aanbreek van die 21ste eeu is die slagspreuk nie meer "die oorlewing van die sterkste" nie, maar "die oorlewing van die aanpasbaarste". Dit is sowel 'n bedreiging vir die tradisionele Afrika-kultuur en -onderwys as 'n uitdaging. Die sukses van die Afrika-renaissance is waarskynlik afhanklik van Afrikane se vermoë om hierdie uitdaging te aanvaar. Moontlik lê die oplossing daarin om positiewe tradisionele waardes soos ubuntu in nuwe sosiale en ekonomiese kontekste toe te pas.
(Sien ook: "Onderwys in Afrika" en "Die geskiedenis van onderwys in Suid-Afrika" II, III en IV.)
Sonja Burger









