Die geskiedenis van die African National Congress (ANC) I
Vanuit MyFundi
Inhoud |
Die geskiedenis van die African National Congress I: Vroeë geskiedenis tot by die aanbreek van apartheid
Opsomming
Die geskiedenis van die African National Congress (ANC), Suid-Afrika se regerende party sedert die land se eerste demokratiese verkiesing in 2004, gaan terug tot die stigting van die South African Native National Congress in 1912. Hierdie artikel, die eerste in ‘n reeks van twee, volg die ANC se lang en moeilike stryd om vryheid, van die nie-gewelddadige weerstandstaktieke van die 1920’s en ‘30s tot die burgerlike ongehoorsaamheidsveldtogte van die ‘40s en ‘50s. Die rolle wat die ANC-jeugliga en Umkhonto we Sizwe in dié geskiedenis gespeel het, word elders bespreek.
Embleem van die African National Congress.
Die geskiedenis van die African National Congress (ANC) het amptelik begin met die stigting van sy voorganger, die South African Native National Congress (SANNC), op 8 Januarie 1912, om te veg vir die regte en voorregte van swartmense in die Unie van Suid-Afrika. Die Congress is in die lewe geroep op aanstigting van Pixley Seme, 'n swart prokureur. Onder sy stigterslede tel John Dube, wat tot die organisasie se eerste president verkies is, en die skrywer Sol Plaatje (outeur van Native Life in South Africa).
Vroeë geskiedenis
Die behoefte aan ‘n verenigde opposisie teen eksklusiewe wit beheer is gebore uit die stryd teen koloniale oorheersing wat begin het in 1652, toe die eerste Europese setlaars voet aan wal gesit het in die Kaap, en van aangesig tot aangesig gekom het met die inheemse Khoisan wat uit die veld gelewe het. Wit boere wat die Kaapkolonie verlaat het, het te staan gekom teen swart etniese groepe wat uit die noorde suidwaarts gedryf is deur die ekspansionistiese beleid van swart leiers soos Shaka, wat die Difeqane of Mfeqane begin het. Só het ‘n reeks Grensoorloë begin wat rondom die Visriviergrens geveg is, en later oorgegaan het in bitter veldslae tussen wit en swart namate die Voortrekkers oor die Drakensberg getrek het en nedersettings tot by die Limpopo gevestig het.
Teen die vroeë 1900’s was wit oorheersing van swartmense reeds goed gevestig deur opeenvolgende Nederlandse en Britse regimes, en in 1910 het die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika onder die Boereleier generaal Louis Botha alleenheerskappy in die hande van die wit minderheid gekonsolideer deur middel van wetgewing. Swartmense – verarm, sonder grond en ongeskool – is uitgestoot na die rand van die samelewing. Sonder stemreg het hulle geen toegang gehad tot wettige politieke maniere om hul saak te bevorder nie.
Thengo Jabavu was die redakteur van Imvo Zabantsundu, wat as ‘n mondstuk vir swart griewe en aspirasies gedien het.
Swart opposisie teen onderdrukking en uitbuiting het in die tyd van die SANNC begin kop uitsteek.
Verskeie faktore het daartoe bygedra, insluitende die vestiging van die Christendom onder swartmense deur sendelinge, wat gelei het tot onafhanklike swart kerkgroepe (soos Nehemiah Tile se Thembu-kerk [gestig 1883] en eerw M M Mokone se Ethiopiese Kerk [gestig 1892]).
'n Nuwe geslag swart intellektuele is in sendingskole opgevoed is en het onder meer ‘n mondstuk vir swart griewe en aspirasies geskep in die vorm van ‘n swart pers (bv Izwi Labantu in Oos-Londen, en Imvo Zabantsundu, onder die redakteurskap van Thengo Jabavu).
Die behoefte aan ‘n breër politieke mondstuk vir swartmense het gelei tot die stigting van die eerste swart politieke organisasies in die laat-1800’s, insluitende Imbumba yam a Afrika (Unie van Afrikane) (1882), die Native Education Association en die Native Electoral Association (albei 1884). (Swartmense het in daardie stadium nog stemreg in die Kaap geniet.)
Hulle is gevolg deur onder meer die Natal Native Congress, met Martin Luthuli as leier (Julie 1900), en die South African Native Congress (1902).
Eerw Walter Rubusana was leier van die South African Native Convention in Bloemfontein, 1909.
Verskeie petisies en vertoë is deur hierdie nuutgestigte organisasies namens swartmense aan die owerheid voorgelê, byvoorbeeld voor die SA Kommissie oor Naturellesake, die Staatsekretaris vir Kolonies, en selfs aan koning Eduard VII self, waarin daar dringend vertoë gerig is teen die konsepvoorstel van die Suid-Afrika Wet. Op 24 Maart 1909 het 60 verteenwoordigers die driedaagse South African Native Convention in Bloemfontein onder die leierskap van die verkose president, eerw Walter Rubusana, byeengekom. Hul petisies aangaande veranderings aan die konsepwetgewing, wat aan die koloniale en Britse owerheid voorgelê is, het egter op dowe ore geval.
Op 31 Mei 1910 het die Unie van Suid-Afrika tot stand gekom, en is swartmense ontneem van basiese menseregte en gelyke geleenthede. In 1913 het die Wet op Naturellegrond meer as 90 % van die totale grond in die land aan die wit minderheid toegesê, terwyl die swart meerderheid minder as 10 % ontvang het. Swartmense is verder verdruk deur die Paswette, waarvolgens hulle gedwing is om dompasse by hulle te dra in “wit” gebiede; die Wet op Hoofbelasting, waarvolgens swartmense buite proporsie hoë belasting betaal het, wette wat die verhouding tussen wit werkgewers en hul swart werknemers gereël het, en ander inperkingsmaatreëls soos aandklokreëls.
Sol Plaatje (hier op die voorblad van 'n biografie oor hom in die Freedom Fighters-reeks) het saam met Dube en Rubusana na Londen gereis om steun van die Koloniale Sekretaris en die Britse publiek te probeer kry.
Uit hierdie onregverdige wette, beperkinge en ander griewe het die saad van weerstand en die behoefte aan ‘n verenigde opposisie gegroei. In sy eerste fase het opposisie die vorm van stakings, boikotte, burgerlike ongehoorsaamheidsveldtogte, demonstrasies, betogings, afvaardigings, massavergaderings en ander nie-gewelddadige of passiewe weerstandstaktieke aangeneem.
In 1914 het ‘n afvaardiging insluitende Dube, Rubusana en Plaatje na Londen gereis om steun van die Koloniale Sekretaris en die Britse publiek te probeer kry, maar geen sukses behaal nie. In daardie stadium het die ANC besluit om Suid-Afrika se deelname aan die Eerste Wêreldoorlog te steun in die hoop dat die owerheid swartmense het hul vryheid sou beloon, maar op die ou end het dit hulle niks in die sak gebring nie, ten spyte daarvan dat swartmense en kleurlinge in “arbeidspligtige weermagte” in Suidwes-Afrika, Oos-Afrika en Europa gedien het, en dat 865 swart Suid-Afrikaners in die oorlog omgekom het.
Die voorblad van 'n biografie oor dr W E B du Bois, wat die eerste Pan-Afrika-kongres in 1919 in Parys gestig het. Die ANC was gebaseer op die ideale van Afrika-eenheid soos deur dr Du Bois uiteengesit.
In 1918, ná ‘n uitgerekte proses, het die ANC sy grondwet aangeneem. Daarin is daar na die organisasie verwys as ‘n “Pan-Afrikanistiese Vereniging”, wat die ideale van Afrika-eenheid soos deur dr W E B du Bois uiteengesit gevolg het. Du Bois het die eerste Pan-Afrika-kongres in 1919 in Parys gestig. Hierdie ideale sou later die basis van die Organisasie vir Afrika-eenheid (OAE) vorm.
In 1918 het die SANNC se vrouetak, die Bantoe-vroueliga van Suid-Afrika (onder leiding van Charlotte Maxeke), ‘n suksesvolle veldtog teen die dra van dompasse deur swart vroue georganiseer. Die volgende jaar het die SANNC nog ‘n veldtog teen die paswette ingestel, en hul steun toegesê aan die staking deur mynwerkers waarin 70 000 swartes teen swak werksomstandighede en uitbuiting betoog het. Verskeie betogers het gesterf of is gewond toe die owerheid met geweld reageer het.
Meer staatsgesteunde geweld het tydens die sogenaamde Bulhoek-massamoord van 24 Mei 1921 uitgebreek, teen ‘n godsdienstige sekte wat die owerheid uitgedaag het deur hul hutte op grond te bou wat aan die Britse kroon behoort het. Dieselfde jaar het die stigting van die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty (SAKP) plaasgevind nadat sosialistiese beginsels goed ontvang is deur die massas verarmde werkers met min of geen vooruitsigte nie. In 1927 sou die ANC-president, J T Gumede, nouer samewerking met die Kommuniste ondersteun, maar niks sou hieruit voortvloei nie. In 1930 het Gumede die Onafhanklike ANC gestig, terwyl Pixley Seme president van die ANC geword het. Tydens die volgende dekade het die ANC onaktief geraak.
Geboorte van die ANC
In 1940 is dr Alfred Xuma verkies tot president van die ANC.
In teenstelling met die Industrial and Commercial Worker’s Union (ICCU), wat op dieselfde tydstip aktief was, het die SANNC nie enige noemenswaardige vooruitgang gemaak totdat sy naam in 1923 verander is na die African National Congress (ANC) nie. Die SANNC het wel daarin geslaag om swartmense uit verskeie etniese groeperings saam te snoer onder een sambreel, en só die weg te berei vir die ontwikkeling van ‘n verteenwoordigende organisasie wat eendag die regerende party in ‘n demokratiese Suid-Afrika sou word.
In 1930 het die ANC die Non-European Convention (Nie-blanke Konvensie) in Kimberley bygewoon, tesame met onder meer die African People’s Organisation (APO) en die Indian Congress (IC). In 1935 het twee waterskeidingsgebeurtenisse die behoefte aan ‘n verenigde benadering in die stryd om burgerregte vir swartmense geïllustreer: Die Nasionale Konvensie vir Alle Afrikane is gereël om weerstand te bied teen die Hertzog-wette, wat swart grondeienaarskap in Suid-Afrika wou beperk; en die Nasionale Vryheidsliga vir Gelykheid, Grond en Vryheid is onder leiding van Cissy Gool gestig, met die doel om gelyke regte na te streef.
'n Jong Nelson Mandela in tradisionele klere. In 1944 het Mandela saam met Oliver Tambo en Walter Sisulu die ANC-jeugliga gestig.
Rondom daardie tyd het industrialisasie gelei tot ‘n grootskaalse migrasie van swart arbeiders van die landelike na die stedelike gebiede, waar gemeenskapsorganisasies en vakbonde floreer het. Die tyd was ryp vir ‘n meer georganiseerde en verskerpte massa-optrede teen diskriminasie.
In 1940 is dr Alfred Xuma verkies tot president van die ANC. Die daaropvolgende jaar het Xuma ‘n beleidsverklaring bekendgestel wat ‘n oproep op swartmense gedoen het om hulle onder die sambreel van dié organisasie te verenig. Swart weerstand was besig om op verskeie fronte te organiseer, soos die stigting van die Raad vir Nie-blanke Vakbonde (onder leiding van Gana Makabeni) in 1941 getoon het.
In 1943 het die ANC eers die ANC-vroueliga gestig, en in 1944 die ANC-jeugliga, gelei deur Nelson Mandela, Oliver Tambo en Walter Sisulu. In hul beleidsverklaring het die Jeugliga onderskei tussen twee strome Afrika-nasionalisme, naamlik “Afrika vir die Afrikane”, soos verklaar deur Marcus Garvey, en ‘n nie-rassistiese nasionalisme gebaseer op die Suid-Afrikaanse konteks. Die Jeugliga het laasgenoemde ondersteun.
Burgerlike ongehoorsaamheid
Die gematigde dr Xuma is opgevolg as ANC-president deur dr James Moroka (foto), en die stryd teen apartheid het ‘n meer aggressiewe aard aangeneem.
Vanaf sy begin as ‘n hoofsaaklik burgerregtegroep wat regdeur die Twintigs en Dertigs nie-gewelddadige weerstandstaktieke (soos die veldtogte een die dra van dompasse) gesteun het, het die ANC betrokke geraak by burgerlike ongehoorsaamheid en landwye stakings en boikotte in die Veertigs en Vyftigs. Hierdie verandering van taktiek het plaasgevind ná die totstandkoming van die ANC-jeugliga in 1944.
Die Jeugliga het ‘n meer militante benadering tot die weerstandsveldtog voorgestaan soos ingesluit in hul Program van Aksie, wat in 1949 deur die ANC aanvaar is. Die gematigde dr Xuma is opgevolg as ANC-president deur dr James Moroka, en die stryd teen apartheid het ‘n meer aggressiewe aard aangeneem te midde van die sosialistiese revolusie wat Rusland en Kuba getref het ná die kapitalismekrisis wat op die Tweede Wêreldoorlog gevolg het.
Die ANC se aanvaarding van die Jeugliga se Program van Aksie het gevolg op die begin van die Indiërs se Passiewe Weerstandsveldtog wat op 13 Junie 1946 van stapel laat loop is, uit reaksie teen die Wet op Asiatiese Grondbesitreg (die “Ghetto-wet” gedoop deur dr Naidoo) en die Wet op Indiërverteenwoordiging wat deur die Smuts-regering deurgevoer is. Hierdie twee wette het grondeienaarskap deur Indiërs ingeperk en hulle net beperkte verteenwoordiging deur witmense in die regering gebied, terwyl hul stemreg ontneem is. Die Passiewe Weerstandsveldtog het die steun van die ANC geniet.
'n Plakkaat vir 'n konferensie in 2009 waarop 'n jeugdige dr Yusuf Dadoo uitgebeeld word. Dadoo was een van die hoofleiers van die Indiërs se Passiewe Weerstandsbeweging.
In Augustus 1946 het daar egter ‘n gebeurtenis plaasgevind wat die vryheidstryd ‘n nuwe vlak laat betree het: Tydens ‘n staking deur 100 000 mynwerkers op die Witwatersrand het die polisie honderde stakers gedood of gewond, terwyl hul leiers in hegtenis geneem en aangekla is van sameswering om te staak. Onder dié groep was Yusuf Dadoo, een van die hoofleiers van die Indiërs se Passiewe Weerstandsbeweging (die ander hoofleier was dr G M Naicker). Ná die voorvalle wat op die staking gevolg het, het Dadoo en Naicker ‘n verdrag met Xuma gesluit wat die ANC, die Natal Indian Congress (NIC) en die Transvaal Indian Congress (TIC) in die Congress Alliance (CA) saamgesnoer het. Die Alliansie sou as die nasionale vryheidsfront optree. Die ooreenkoms, wat in Maart 1947 onderteken is, was bekend as die Xuma-Naicker-Dadoo-verdrag.
(Sien ook: “Die geskiedenis van die ANC II: Van apartheid tot demokrasie”.)














