modified on 21 Maart 2011 at 08:38 ••• 20 685 views

Die Suid-Afrikaanse ekonomie V: Werkloosheid

Vanuit MyFundi

Spring na: navigasie, soek

Inhoud

Die Suid-Afrikaanse ekonomie V: Werkloosheid

Opsomming

Suid-Afrika se werkloosheidsprobleem is baie kompleks. In hierdie artikel word die meting en definisies van werkloosheid, asook sommige van die oorsake, bespreek. Die hoë vlak van werkloosheid word vererger deur die ongelyke verdeling van werkgeleenthede tussen provinsies en bevolkingsgroepe. Vroue, die jeug en onopgeleide werkers ondervind ook 'n hoër vlak van werkloosheid.

Img05148.jpg
Afgesien van die ekonomiese implikasies van 'n hoë werkloosheidsvlak soos Suid-Afrika s'n, strek die sosiale implikasies van werkloosheid baie verder: dit het 'n enorme impak op armoede en ongelykheid, soos wat 'n groot deel van Suid-Afrika se bevolking (soos die mense in hierdie plakkerskamp) daagliks beleef. © Associated Press

Hoewel sekere mate van positiewe ekonomiese groei sedert 1993 ondervind is, word die werkloosheidsprobleem steeds erger.  Die hoofdoel van ekonomiese beleid is om die materiële welsyn en die lewensgehalte van 'n land se bevolking te verbeter.

Hierdie doel word ten beste gebruik deur ekonomiese groei van 'n hoë gehalte - en die verwagting sou wees dat dit ook vergesel sal word van 'n deurlopend groeiende arbeidsmark. Wanneer die arbeidsmark egter om die een of ander rede nie die groeiende arbeidsmag opneem/absorbeer nie, word enkelinge wat in staat en bereid is om te werk, werkloos.

'n Hoë werkloosheidsvlak het beide ekonomiese en sosiale implikasies. Van die ekonomiese kant gesien, is 'n land se werkloosheidsvlak een van die toonaangewende aanwysers van die prestasie van 'n ekonomie. Die ekonomiese en sosiale implikasies van werkloosheid strek egter baie verder en wyer. 'n Hoë werkloosheidsvlak het  'n enorme impak op armoede en ongelykheid en kan lei tot onnodige huishoudelike trauma.

Die doel van hierdie artikel is om die omvang van werkloosheid te ontleed en om die belangrikste dimensies van hierdie vraagstuk na vore te bring.

Meting en omvang

Belangrike vrae wat gevra kan word met betrekking tot die indiensneming in Suid-Afrika sluit in:

  • Wat behels die arbeidsmark in Suid-Afrika?
  • Hoe word die werkloosheidskoers bereken?
  • Hoe word werkloosheid gedefinieer?
  • Hoe word werkloosheid bereken?
  • Wat is die vlak van werkloosheid in Suid-Afrika?

SA arbeidsmark

Die arbeidsmark sluit daardie deel van die bevolking in wat tussen 15 en 65 jaar oud en ekonomies aktief is. Die ekonomiese aktiewe bevolking - die arbeidsmag - sluit gevolglik beide die werkendes en die werkloses in. Die Oktober Huishoudelike Opname van 1998 het bepaal dat die ekonomies aktiewe bevolking 12,6 miljoen mense beloop. Die werkloosheidskoers word bereken as die persentasie van die ekonomiese aktiewe bevolking wat werkloos is.

'n Verskeidenheid metodes word in Suid-Afrika gebruik om die omvang van werkloosheid van te stel:

  • Statistiek Suid-Afrika het jaarliks sedert Oktober 1993 'n Huishoudelike Opname onderneem ten einde die omvang van werkloosheid te bepaal. Die resultate van hierdie opname word gebruik om die amptelike werkloosheidskoers te bereken.
  • Die Departement van Arbeid identifiseer die omvang van werkloosheid as die mense wat amptelik by die verskeie streekkantore geregistreer is as werksoekend.
  • Die bevolkingsensus wat elke vyf jaar deur Statistiek Suid-Afrika onderneem word.
  • Onafhanklike studies en ondersoeke wat ook op die werkloosheidsprobleem fokus.

Twee definisies

Statistiek Suid Afrika onderskei tussen twee definisies van die werkloosheidskoers, naamlik die amptelike of eng werkloosheidskoers en die uitgebreide werkloosheidskoers. Dié organisasie het onlangs sy definisie van die amptelike werkloosheidskoers gewysig om in te pas by die definisie wat deur die Internasionale Arbeidsorganisasie gebruik word.

Volgens hierdie nuwe definisie sluit die werkloses daardie mense in die ekonomiese aktiewe deel van die bevolking in wat (a) nie gewerk het in die sewe dae voorafgaande die onderhoud nie; (b) wat wil werk en beskikbaar is om te werk binne 'n week van die onderhoud: (c) wat daadwerklike stappe geneem het om werk te soek om 'n bepaalde soort private beroep te begin in die vier weke voorafgaande die onderhoud, maar wat nie daarin kon slaag nie.

Die uitgebreide werkloosheidskoers wat tot onlangs deur Statistiek Suid-Afrika as die amptelike werkloosheidskoers gebruik is, vereis net maatstawwe (a) en (b), maar nie maatstaf (c) nie.

Werkloosheidskoers

Suid-Afrika se werkloosheidskoers sedert 1994 - volgens die uitgebreide en amptelike omskrywing - word in Tabel 1 uiteengesit.  Weens die streng omskrywing wat deur Statistiek Suid-Afrika in hul berekening van die amptelike werkloosheidskoers gebruik word, bestaan daar uitgebreide teenstrydighede tussen die twee afmetinge van werkloosheid.

Hierdie groot teenstrydighede dra by tot die twispunt rondom die werklike vlak van werkloosheid. In hierdie opsig moet daarop gelet word dat weens die lang geskiedenis van werkloosheid in Suid-Afrika, al die werkloses nie noodwendig voldoen aan maatstaf (c) van die nuwe amptelike definisie nie. Dit is omdat mismoedige werkers - dit is, werkers wat alle hoop laat vaar het om werk te kry - 'n groot persentasie van die arbeidsmag beslaan.

Tabel 1: Werkloosheidskoers: 1994-1998

Omskrywing
1994
1995
1996
1997
1998
Amptelike omskrywing
20.0
16.9
19.3
21.0
25.2
Uitgebreide omskrywing
31.5
29.2
33.0
36.0
37.5

Bron: Statistiek Suid-Afrika.

Mens kan dus aanneem dat die ware werkloosheidskoers in Suid-Afrika nader kan wees aan die berekenings volgens die uitgebreide omskrywing. Indien 1998 se uitgebreide werkloosheidskoers van 37,5% nader is aan die werklike werkloosheidskoers, is die afleiding dat ongeveer 5,6 miljoen ekonomiese aktiewe persone sonder formele of informele werk is - met ander woorde, sonder enige gereelde inkomste.

Omvang van werkloosheid

Afgesien daarvan dat die werkloosheidskoers oor die afgelope dekade meer as verdubbel het, het die buitegewone hoë werkloosheidskoers ook verskeie dimensies:

  • Daar is 'n ongelyke verdeling van werkgeleenthede tussen die nege provinsies.  Tabel 2 sit die werkloosheidskoers in die verskeie provinsies uiteen. Die Oos-Kaap het die hoogste vlak, met sowat 49% van die ekonomies aktiewe bevolking werkloos. Buitengewoon hoë werkloosheidskoerse kom ook in die Limpopo-provinsie (voorheen Noordelike Provinsie), KwaZulu-Natal en Noordwes voor. Die laagste vlak geld in die Wes-Kaap, waar ongeveer 18% van die ekonomiese aktiewe bevolking werkloos is.
  • As mens na verspreiding volgens geslag kyk, blyk dit dat werkloosheid onder alle bevolkingsgroepe hoër is by vroue hoër as by mans. Die Oktober Huishoudelike Opname van 1998 toon aan dat 30% van alle vroue werkloos is, teenoor sowat 23% van alle ekonomies aktiewe mans.
  • Die hoogste werkloosheidskoers kom onder swartmense voor, met meer as sewe keer meer swartes as blankes wat werkloos is.
  • Meer werkloosheid kom in nie-stedelike as in stedelike gebiede voor.
  • Werkloses bestaan meestal uit jongmense. Sowat twee derdes van alle werkloses is jonger as 34 jaar.
  • 'n Interessante verskynsel in die Suid-Afrikaanse arbeidsmark is dat mense met voltooide skoling 'n laer werkloosheidsvlak ondervind as diegene met geen skoling of selfs diegene met 'n graad-12-kwalifikasie. Die voorkoms van werkloosheid daal onder diegene wat enige vorm van tersiêre opvoeding het.

Tipes werkloosheid

Die volgende soorte werkloosheid kan onderskei word:

  • Wrywingswerkloosheid kom voor as gevolg van onvoldoende inligting oor bestaande werkgeleenthede in die arbeidsmark. Hierdie soort werkloosheid verwys na mense wat tans tussen betrekkings is, of wat besig is om na beter werkgeleenthede te soek. Die voorkoms van hierdie soort werkloosheid is redelik beperk.
  • Strukturele werkloosheid kom voor as gevolg van 'n verandering in die patroon van vraag en aanbod in die ekonomie. Dit verwys na 'n soort werkloosheid wat voorkom ongeag die sikliese toestand van die ekonomie.  Indien daar byvoorbeeld 'n verskuiwing sou plaasvind van die gebruik van fietse na die gebruik van motors, sal dit lei tot strukturele werkloosheid in die fietsbedryf. Strukturele werkloosheid is veral toepaslik in die Suid-Afrikaanse verband.
  • Sikliese werkloosheid kom voor waar die totale vraag en arbeid laag is. Dit word gewoonlik tydens 'n sikliese afswaai van die ekonomie ondervind.
  • Seisoenale werkloosheid word vereenselwig met nywerhede of streke waar die vraag na arbeid tydens sekere tye van die jaar laer is. 'n Voorbeeld hiervan is die landbousektor, waar meer arbeid tydens die oestydperk benodig word.

Tabel 2: Werkloosheidskoers volgens provinsie

Provinsie
Werkloosheidskoers
Oos-Kaap
48.5
Limpopo-provinsie
46.0
KwaZulu-Natal
39.1
Noordwes
37.9
Mpumalanga
32.9
Vrystaat
30.0
Noord-Kaap
28.5
Gauteng
28.2
Wes-Kaap
17.9

Bron: Statistiek Suid-Afrika

Oorsake van werkloosheid

Soos voorheen genoem, is die werkloosheidsprobleem in Suid-Afrika baie kompleks en die oorsake daarvan nie voor die hand liggend nie. Die hoë vlak kan aan verskeie faktore toegeskryf word, insluitende:

  • 'n Afname in ekonomiese aktiwiteit sedert die middel-1980's en vroeë 1990's.  Die afwesigheid van genoegsame ekonomiese groei het tot stagnasie in die arbeidsmark aanleiding gegee.
  • Die toenemende neiging in die rigting van kapitaalintensiteit in die Suid-Afrikaanse ekonomie weens arbeidsmarkonrus, die invloed van vakbonde, die algemene lae vaardigheidsvlak, asook rigiede en onbuigsame arbeidsmarkte.
  • Die opswaai in ekonomiese aktiwiteite ná Junie 1993 het nie, soos vorige opswaaie, bydrae tot die uitbreiding van werkgeleenthede nie. Dít kan gedeeltelik toegeskryf word aan die feit dat daar eerstens sedert die begin van die huidige opswaaifase 'n gemiddelde jaarlikse toename van 2,9% in arbeidsproduktiwiteit was, wat aandui dat werkgewers hul bestaande werkers aangemoedig het om harder te werk. Tweedens het die onderbenutting van produksiefaktore voor die huidige opswaaifase werkgewers toegelaat om die vlakke van kapasiteitsbenutting tydens die huidige opswaaifasie uit te brei voordat addisionele werkers in diens geneem is.
  • Die algemene lae vaardigheidsvlak van die arbeidsmag.
  • Algemene onsekerheid aangaande toekomstige ekonomiese vooruitsigte.
  • Uitwendige faktore soos die globalisering van markte, minder handelsbeperkings, die beskikbaarheid van goedkoper ingevoerde goedere en die vinnige ontwikkeling van nuwe tegnologie.

Alternatiewe beleidstrategieë

Afgesien daarvan dat Suid-Afrika 'n hoë werkloosheidskoers het, is die verspreiding van werkgeleenthede baie ongelyk tussen die verskeie provinsies en bevolkingsgroepe. 'n Verdere kenmerk is die relatief hoër voorkoms van werkloosheid onder vroue, die jeug en ongeskoolde werkers.

Beleidsmaatreëls

Nuwe benaderings word vereis om werkgeleenthede uit te brei en te verbeter ten einde toe te laat dat die breër bevolking sal kan deel in die groei en daaruit voordeel te kan trek. Die volgende beleidsmaatreëls word voorgestel om te verseker dat toekomstige ekonomiese groei werkskeppend sal wees:

  • Belegging in opvoeding en opleiding van 'n hoë gehalte. Mense is 'n bate, en 'n noodsaaklike proses vir toekomstige groei en ontwikkeling is om hulle om te skep  in 'n opgevoede en opgeleide arbeidsmark.
  • Aantrekkingskrag en aggressiwiteit is belangrike beleidstrategieë. Deur aggressiwiteit behoort Suid-Afrika te fokus op uitvoermarkte wat inkomste sal genereer. Aan die ander kant sal die skepping van 'n plaaslike omgewing wat direkte buitelandse beleggings sal aantrek, lei tot die skepping van nuwe werkgeleenthede.
  • Ekonomiese groei behoort meer werkskeppend en minder kapitaalintensief te wees, met meer buigsame arbeidsmarkte.
  • Die bevordering van werkskepping op infrastruktuur- en ander HOP-verwante projekte.
  • Die bevordering van klein, medium- en mikro-besighede.

Hoewel die Suid-Afrikaanse ekonomie die eise van kapitaalintensiewe produksiemetodes in die wêreldekonomie in die gesig staar, behoort die bekamping van die baie hoë werkloosheidsvlak in die land een van die top-beleidsdoelwitte van die Regering te wees.

(Sien ook: "Die Suid-Afrikaanse ekonomie IV: Indiensneming".)

Prof Elsabé Loots

Verified Article