modified on 14 Februarie 2011 at 16:17 ••• 2 530 views

Die Robbeneiland-gevangenis

Vanuit MyFundi

Spring na: navigasie, soek

Die Robbeneiland-gevangenis

Robbeneiland_gevangenis.jpg
Robbeneiland was 'n hoësekuriteit-gevangenis vir hoëprofiel- politieke gevangenes tydens apartheid, insluitende Nelson Mandela. Op die foto is gevangenes besig om klippe op te kap.

Jan van Riebeeck, 'n verteenwoordiger van die Hollands-Oos-Indiese Kompanjie (HOIK), het in 1657 besluit om Robbeneiland te gebruik as 'n plek waarheen uitgewekenes en slawe verban kon word. Die HOIK was 'n maatskappy wat in Holland gebaseer was en handel tussen die Ooste en Europa gedryf het.

Van toe af het die verskillende goewerneurs van die Kaap die eiland nuttig gevind om ongewenstes heen te stuur aangesien dit gerieflik sowat elf kilometer van die kus van Kaapstad af geleë was.

In 1846 is die gevangenis in 'n hospitaal omskep en in 1855 het 'n deel van die hospitaal 'n kolonie geword vir mense met melaatsheid en geestessiektes, terwyl 'n ander deel weer in 'n gevangenis omskep is. Die hospitaal is in 1931 gesluit toe die Volkebond se Gesondheidsorganisasie verklaar het dat melaatses nie in so 'n afgesonderde toestand aangehou moes word nie.

Gedurende die Tweede Wêreldoorlog is verdedigingswerke op die eiland gebou en dit is later as 'n vlootopleidingsentrum gebruik. Die eiland is ook ná die sluiting van die Suez-kanaal gebruik as 'n stasie waar skepe brandstof kon inneem.

Op 1 April 1961 is die eiland vir 'n meer sinistere doel aangepas: om as 'n maksimumsekuriteitsgevangenis vir die aanhouding van politieke gevangenes te dien. Die wêreld se beroemdste gevangene, Nelson Mandela, het die grootste deel van sy vonnis op dié eiland uitgedien.

In Junie 1990 het toenmalige president F W de Klerk politieke gevangenes begin vrylaat. Die laaste van hulle het die eiland in Mei 1991 verlaat. Die laaste gemenereggevangenes, wat altyd van politieke gevangenes geskei is, het in 1996 die eiland vaarwel toegeroep.

Robbeneiland is op 31 Desember 1996 aan die Departement van Kuns, Kultuur, Wetenskap en Tegnologie oorhandig. Daarmee is Korrektiewe Dienste se heerskappy van 35 jaar is afgesluit. Robben-eiland is tot 'n nasionale monument en 'n Wêrelderfenisterrein verklaar en ontvang tans besoekers van 'n ander aard: toeriste, wat die verskillende aspekte van die eiland se bewoë geskiedenis op gereelde ekskursies kan verken en ook die eiland se ongewone atmosfeer, ekologie en wildlewe kan waarneem.

(Sien ook artikels: "Die ryk erfenis van Robbeneiland" en "Robbeneiland".)

Verified Article