modified on 12 Mei 2011 at 06:25 ••• 5 393 views

Begroting I: Nasionale begroting

Vanuit MyFundi

Spring na: navigasie, soek

Inhoud

Begroting I: Nasionale begroting

Opsomming

Die indiening van die nasionale regering se jaarlikse begroting is die belangrikste gebeurtenis op die fiskale almanak. Dit stel die minister van finansies in staat om in 'n makro-ekonomiese verband 'n stelselmatige en volledige oorsig van die stand van openbare finansies aan te bied en om aan die kieserskorps en hul politieke verteenwoordigers in die parlement die bestedings-, inkomste- (-belasting-) en loon-finansieringsvoorstelle van die regering vir die volgende fiskale jaar te bevestig.

Img01479.jpg
Die SA regering  in die onlangse tyd al die regte dinge gedoen: die begrotingstekort is verminder, internasionale mededingendheid verbeter, die markte vrygemaak, inflasie onder beheer gebring, valutabeheer geleidelik afgeskaf, struikelblokke vir buitelandse investering verwyder en finansiële dienste gedereguleer. Die Minister van Finansies, Trevor Manuel (foto), het ook meer lof as kritiek ontvang vir sy begroting van 2000/2001. © Beeld

Alhoewel dit altyd besluite bevat wat vir die eerste keer aangekondig word, is die begroting in groot mate 'n versameling van fiskale besluite wat oor 'n lang tydperk geneem is. Die bestuur van die Staat se finansies is 'n deurlopende proses van besluitneming wat een maal per jaar sy hoogtepunt bereik met die begroting en wat die geleentheid voorsien om al die besluite samehangend en in 'n enkele stel dokumente voor te lê.

Suid-Afrika

Gedurende die afgelope twee jaar is Suid-Afrika se nasionale begroting tydens die tweede helfte van Februarie voorgelê. Die Minister van Finansies lees die begrotingstoespraak in die Parlement en lê 'n aantal dokumente voor saam met die toespraak.

Dit sluit die Begrotingsoorsig in, asook die voorgenome bestedingstoewysings en die inkomsteramings vir die volgende fiskale jaar, wat van 1 April tot 31 Maart loop.  Die Begrotingsoorsig dek makro-ekonomiese en fiskale vraagstukke wat tersaaklik is tot die begroting, en bevat ook 'n magdom fiskale inligting. 'n Lys van dokumente wat in die Parlement ter tafel gelê word, word hiernaas genoem.




Lys van dokumente wat op begrotingsdag in die Parlement ter tafel gelê word:

  •      Begrotingstoespraak deur die Minister van Finansies;
  •      Begrotingsoorsig;
  •      Gedrukte inkomsteraming;
  •      Nasionale Bestedingsoorsig (vervat in 'n uitvoerige opgawe van besteding en dienslewering deur die nasionale staatsdepartement en bestedingsagentskappe, wat die vier voorgaande jare dek, asook die twee volgende jare);
  •      Raming van besteding (wat besonderhede bevat van die programtoewysings onder elke begrotingspos);
  •      Begrotingswetsontwerp (wat die voorgenome toewysings per departementele pos uiteensit - die uiteindelike goedkeuring van hierdie wetsontwerp wettig die bestedingsvoorstelle);
  •      Verdeling van die Inkomstewetsontwerp (dit bevat die verdeling van inkomste tussen die nasionale, provinsiale en plaaslike regerings);
  •      Dokumente wat belastingvoorstelle bevat.

Daarbenewens dien alle staatsdepartemente uitvoerige verduidelikings met betrekking tot hul toewysings in wanneer hul begrotingsposte bespreek word. Dit word vervat in 'n verklarende memorandum wat ook op begrotingsdag by die Parlement ingedien word.

Beknopte rekeningkundige oorsig van die begroting

Die begrotingsyfers wat deur die Minister van Finansies by die Parlement ingedien word, word kortliks bespreek (sien hier onder). Ons uitbeelding is met verwysing na die 2000/2001-begroting soos opgesom in Tabel 1. Hierdie tabel word verdeel in vier afdelings wat aandag gee aan die inkomste, besteding, tekort en finansiering van die Nasionale Inkomstefonds.

Al die belasting- en nie-belastinginkomste, asook die leningsinkomste van die Nasionale Regering, word inbetaal in die Nasionale Inkomstefonds. Bestaansveiligheidsfondse soos die Werkloosheidsversekeringsfonds, die Padongelukkefonds en die Skadevergoedingsfondse maak nie deel uit van die Nasionale Inkomstefonds waaruit die nasionale begroting gefinansier word nie.

Gegee die openbare aard van hierdie bestemde fondse, en ten einde die vergelyking van die Regering se bestedingsyfers met dié van ander lande moontlik te maak, word inligting oor die ontvangstes en bestedings met betrekking tot hierdie fondse ook in die gepubliseerde begroting voorsien, maar dit word nie hier aangetoon nie.

Inkomste

Die eerste afdeling behandel inkomste (opskrif 1). Die eerste inskrywing is 'n raming van die inkomste (hoofsaaklik indirekte belastings) wat deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens ontvang sal word, op grond van die vorige jaar se belastingkoerse (item 1.1). Dit is 'n raming van die inkomste wat behoort te volg indien geen veranderings in die belasting gemaak sou word nie (indien die belastingkoerse van die vorige jaar toegepas sou word op die belasting soos geraam vir die belastingjaar).

Aanvullende belasting

As 'n volgende stap (item 1.2) word 'n raming ingesluit van aanvullende belasting wat ingevorder behoort te word weens die doelbewuste pogings van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens om die doeltreffendheid van belastinginvordering te verbeter. Hoe meer doeltreffend belastingontduiking bekamp word, hoe meer belastingverligting kan daar vir almal wees. Waarskynlik sal hierdie 'n aparte item bly tot wanneer die grootste deel van die agterstallige belastings ingevorder is.

Netto inkomste-verhoging/verlies

Item 1.3 toon die netto inkomste-toename (of verlies) na aanleiding van die nuwe belastingvoorstelle. Hierdie item verteenwoordig met ander woorde die verwagte verandering in totale inkomste op grond van verhogings in belastingkoerse, minus die verwagte inkomsteverliese weens koersverlagings.

Totale nasionale begrotingsinkomste

Item 1.4 toon die totale nasionale begrotingsinkomste wat vir die bepaalde fiskale jaar verwag word.

Besteding

Die tweede gedeelte bevat die bestedingsramings (sien opskrif 2 in Tabel 1). 'n Week voor die begroting ingedien word, word die dokument getiteld Raming van Besteding (sien "Uiteensetting van jaarlikse begrotingsiklus") gedruk.

Die totaal van die bestedingsramings is die eerste bedrag wat getoon word in Tabel 1 (item 2.1). Dit gebeur dikwels dat daar steeds sekere nie-toegewysde bestedings is wanneer hierdie dokument gedruk word. Hierdie bedrae verskyn in item 2.2.

Gebeurlikheidsreserwe

Die voorsiening vir die gebeurlikheidsreserwe word ook afsonderlik uiteengesit (item 1.3). Dit is 'n bedrag wat nie toegewys word tydens die begroting nie, maar wat dien as 'n kussing om onvermybare en onvoorsiene bestedings te finansier. Indien sodanige bykomende toewysings beperk kan word tot die bedrag van die gebeurlikheidsreserwe, sal die Regering in staat wees om daaraan te voldoen sonder om die begroting te oorskry.

Omdat die Parlement nie die toewysing van staatsgeld kan goedkeur tensy die doel daarvoor aangedui is nie, moet die presiese toewysings vir goedkeuring voorgelê word voor die einde van die fiskale jaar. Die geleentheid vir sulke aansuiwerings kom voor teen die einde van Oktober of aan die begin van November elke jaar.

Tabel 1: Opsomming van die 2000/2001 Nasionale Begroting in medium-termyn-verband

1.     Inkomste

1.1     Totale inkomste teen bestaande koerse

-

-

215,7

-

-

1.2     Plus doeltreffende belastinginvorderingswins

-

-

3,1

-

-

1.3     Plus voorstelle

-

-

-8,5

-

-

1.4     Totale nasionale begrotingsinkomste ná belastingvoorstelle

191,7

196,3

210,4

227,4

243,6

1.5     % verandering vanaf vorige jaar/raming

-

2,4

7,2

8,1

7,1

1.6     % van geraamde of geprojekteerde BBP

23,5

24,2

23,8

23,7

23,5

2.     Besteding

2.1     Nasionale begrotingsbesteding1

-

216,0

230,8

246,8

257,4

2.2     Plus bedrae wat nog toegewys moet word

-

-

0,6

1,0

1,3

2.3     Plus gebeurlikheidsreserwe

-

-

2,0

4,0

8,0

2.4     Totale nasionale begrotingsbesteding

216,8

216,0

233,5

251,5

266,7

2.5     % verandering van vorige jaar/raming

-

-0,3

8,1

7,7

6,0

2.6     % van geraamde of geprojekteerde BBP

26,6

26,7

26,4

26,2

25,7

3.     Tekort

3.1     Nasionale begrotingstekort [(1)-(2)]

25,1

19,7

23,1

24,1

23,1

3.2     Persentasie van geraamde of geprojekteerde BBP

3,5

2,4

2,6

2,5

2,2

3.3     Plus buitengewone oordragte

-

1,4

2,2

-

-

3.4     Min opbrengste uit die verkoop van staatsbates

4,0

6,9

5,0

6,0

10,0

3.5     Netto leningsvereiste

21,1

14,3

20,3

18,1

13,1

4     Finansiering

4.1     Netto verandering in kontantsaldo's

-

2,7

2,0

-

-

4.2     Korttermyn- binnelandse lenings (netto)

-

3,0

3,5

4,0

4,5

4.3     Langtermyn- binnelandse lenings (netto)

-

5,0

10,1

7,1

1,1

4.4     Buitelandse lenings (netto)

-

3,6

4,6

7,0

7,5

4.5     Totale finansiering (netto)

21,1

14,3

20,3

18,1

13,1

Notas: Nasionale begrotingsbesteding1: Insluitende gedrukte en aanvullende ramings, die oordrag na die Umsobomvu-trust, sekere staande toewysings en die herwaardering van rypwordende buitelandse lenings.

Weens afronding mag die syfers nie daarop neerkom nie.

Bron: Begrotingsoorsig 2000.

Begrotingspos

In November van elke jaar word die sogenaamde aansuiweringsbegroting by die Parlement ingedien. In hierdie begroting word goedkeuring ook gevra vir die verskuiwings van fondse tussen begrotingsposte.

'n Begrotingspos verwys na die hoogste samevoegingvlak van begrotingstoewysings waarvoor 'n verantwoordelike staatsamptenaar - gewoonlik 'n direkteur-generaal - bestuursverantwoordelikheid het.

Die totale bestedingsbedrag wat gefinansier moet word, word aangetoon as item 2.4. Dit sluit bestedings van die HOP-fonds en van buitelandse tegniese samewerkingshulp aan staatsagentskappe uit. Albei hierdie bedrae word ingesluit in die gekonsolideerde nasionale begroting wat ons nie hier uitbeeld nie. Die ander bestedingsposte is ook selfverduidelikend.

Tekort

Die derde afdeling behandel die tekort (opskrif 3). Die verskil tussen besteding en inkomste is die nasionale begrotingstekort (item 3.1), wat ook uitgedruk word as 'n persentasie van die BBP (item 3.2). Uit die verskillende omskrywings van die begrotingsbalans of -tekort wat verduidelik word in staatskuld en die begrotingstekort behoort dit duidelik te wees dat die tekort in Tabel 1 die gewone begrotingstekort is.

Die byvoeging van buitengewone oordragte (item 3.3) - wat so nou en dan voorkom en wat nie bespreek hoef te word ten einde die basiese struktuur van die begroting te verstaan nie - en die aftrekking van die opbrengste uit die verkoop van staatsbates (item 3.4) van die begrotingstekort bring die netto leningsvereiste voort, wat die bedrag van nuwe leningsfinansiering aandui wat die Regering tydens die fiskale jaar sal benodig (item 3.5). Die Regering se beleid is om privatiseringsinkomste te gebruik om die staatskuld te verminder, wat die koste van die staatskuld sal verklein.

Finansiering

Die laaste afdeling bevat die finansieringsplan (opskrif 4), wat aandui hoeveel van die totale nuwe finansiering (na aftrekking van lenings-aflossing) (item 4.5) bygedra sal word deur veranderings in (of die gebruik van) kontantsaldo's (item 4.1), korttermynlenings (tesouriewissels) (item 4.2), langtermyn binnelandse lenings (staatseffekte) (item 4.3), en buitelandse lenings (item 4.4).

Jaarlikse begrotingsiklus

Die voorbereiding van die jaarlikse begroting neem amper 'n volle jaar. Die basiese bestanddele van die jaarlikse begrotingsiklus, asook die betrokke datums, wissel van jaar tot jaar, maar is min of meer soos uiteengesit hiernaas.

Let op die vroeë stadium waarin oorlegpleging met die provinsiale en plaaslike regering plaasvind en die verskeie wisselwerkings tussen die tegniese (burokratiese) en beleidmakende (politieke) vlak. Neem ook waar dat die begrotingsbeplanningsproses begin met middeltermyn-riglyne met betrekking tot voorgenome toewysings (hulpbronbeperkings) waarbinne bestedingsagentskappe moet beplan vir hul begrotingsversoeke.

Hierdie riglyne word ontwikkel om makro- en sektorale fiskale doelwitte te dien en word vervat in die Mediumtermyn-begrotingsbeleidsverklaring wat vir die eerste keer in 1997 gepubliseer is en sedertdien 'n gereelde kenmerk van die fiskale agenda geword het. Begroting vind plaas binne 'n bewegende driejaar-raamwerk, wat bespreek word onder die opskrif Mediumtermyn-bestedingsbeplanning.

Die uiteensetting van die jaarlikse begrotingsiklus gee net 'n oorsig van die sleutel-oomblikke in die ontwikkeling van die nasionale regering se jaarlikse begroting. Provinsies stel hul eie begrotings op en het hul eie begrotingsiklusse.

Die begroting vir 'n bepaalde jaar is nie afgehandel tot die betrokke fiskale jaar klaar is nie. Ná die einde van die fiskale jaar kan sekere kleinere aanpassings steeds plaasvind namate rekenings vereffen word en ongemagtigde bestedings deur die Parlement hersien word.

Die finale verslag oor die begroting verskyn in die jaarlikse verslag van die Ouditeur-generaal, wat vroeg in die volgende kalenderjaar verskyn. So byvoorbeeld het die Ouditeur-generaal se verslag oor 1998/1999 vroeg in 2000 verskyn. Inligting met betrekking tot die bestedingsuitslag van die drie jaar wat die begrotingsjaar voorafgaan, word in die Nasionale Bestedingsopname (sien "Lys van dokumente") gepubliseer.

Jaarlikse begrotingsiklus van Nasionale Regering

Datum
Aktiwiteit
April
Finansiële en Fiskale Kommissie (FFK) maak aanbevelings oor billike verdeling van inkomstes wat landwyd gehef word tussen nasionale, provinsiale en plaaslike regerings.
Middel - einde Junie
Nasionale bestedingsagentskappe lê ramings wat deur ministers goedgekeur is, voor aan die Tesourie.
Middel-Junie - einde Julie
Nasionale Tesourie raam insette van bestedingsagentskappe.
Julie
Minister van Finansies beraadslaag met die begrotingsraad (provinsiale finansiële sake) en begrotingsforum (plaaslike regering - finansiële sake) oor FFK-aanbevelings.
Julie - Augustus
Nasionale Tesourie evalueer bestedingskattings van bestedingsagentskappe.
Begin - middel- September
Mediumtermyn-bestedingskomitee (MTBK)1 evalueer begrotingsvoorstelle van nasionale staatsdepartemente en sinchroniseer hulle met die mediumtermyn-bestedingsraamwerk (MTBR), of pas die laasgenoemde aan.
Middel- - einde September
MTBK se besluite word getakseer en gekwantifiseer.
September
Nasionale tesourie lê die opgedateerde fiskale raamwerk voor aan die Kabinet.
Middel-Oktober
MTBK se voorstelle word aan die Ministeriële Komitee oor die Begroting (Minkombeg) 2 voorgelê.
Einde Oktober
Die Minister van Finansies beraadslaag met die Begrotingsraad om die nasionale en provinsiale mediumtermyn-bestedingsraamwerke (MTBRe) te rekonsilieer.
Begin November
Begin November
Nasionale bestedingsvoorstelle word aan die Kabinet voorgelê.
Begin November
Gesamentlike vergadering word gehou tussen Kabinet en provinsiale premiers om billike verdeling van inkomste tussen nasionale en provinsiale regerings goed te keur of te hersien.
November
Finale toewysings (vir volgende finansiële jaar) en voorlopige toewysings (vir volgende twee finansiële jare) word gestuur aan bestedingsagentskappe.
Januarie - Februarie
Belastingvoorstelle word aan die Kabinet voorgelê.
Februarie
Bestedings- en inkomsteramings word gedruk.
Februarie
Begroting word aan die Parlement voorgelê.

Notas

MTBK1: 'n Interdepartementele komitee onder voorsitterskap van die Tesourie, wat verantwoordelik is vir die evaluering van begrotingsvoorstelle en hul aanpassing by die MTBR (of om laasgenoemde aan te pas).

Minkombeg2: Komitee van senior ministers onder voorsitterskap van die Minister van Finansies; adviseer Kabinet oor begrotingsake (soos staatsprioriteite, die bestedingsvlak, die tekort voor lenings, die vertikale verdeling van inkomste tussen regeringsvlakke en die toewysings aan nasionale staatsdepartemente) wat ingelyf moet word by die mediumtermyn-bestedingsraamwerk.

Begrotingsbeplanning en bestedingsbestuur

Die nasionale tesourie is verantwoordelik vir begrotingsbeplanning en bestedingsbestuur. Afgesien van die toesig deur sy verskeie direktorate, is daar 'n aantal belangrike bondgenote in die bepaling en handhawing van die hulpbronbeperking en die bepaling van voorkeure ten opsigte van die begrotingsversoeke van die verskillende staatsagentskappe.

'n Aantal liggame oefen tug uit oor die algehele vlak van openbare besteding in die tydperk wat die goedkeuring van die begroting voorafgaan. Die begrotingsraad en die begrotingsforum is tot stand gebring om die intra-regerings- finansiële verhoudings tussen die nasionale regering en provinsiale regerings en tussen die nasionale regering en plaaslike regerings onderskeidelik te koördineer. Hierdie is belangrike forums vir die skepping van konsensus oor die makro-ekonomiese beperkings waarbinne die staatsfinansies verplig is om te werk.

Liggame

MTBK

Die MTBK, onder die voorsitterskap van die Direkteur-Generaal van die Tesourie, is in oorlegpleging met die onderskeie bestedingsagentskappe verantwoordelik vir die beoordeling van begrotingsvoorstelle en om dit aan te pas by die mediumtermyn-bestedingsraamwerk (of om laasgenoemde aan te pas). Dit vind plaas binne die algehele fiskale beperking soos bepaal deur die Regering se makro-ekonomiese strategie.

Parlementêre Portfolio-komitee oor Finansies

Die Parlementêre Portfolio-komitee oor Finansies debatteer die begroting en maak aanbevelings aan die Parlement oor die aanvaarbaarheid daarvan. Daar is ook belangrike rolspelers wat tydens die verloop van die fiskale jaar - met ander woorde, nadat die begroting deur die Pparlement goedgekeur is - hulpbronbeperkings afdwing.

Tesourie-komitee

'n Belangrike instelling wat bestedingseise op die politieke vlak kontroleer, is die Tesourie-komitee. Die Minister van Finansies tree as voorsitter op en die komitee sluit ook die President, die Adjunk-President, die Ministers van Binnelandse Sake, van Arbeid en van Handel en Nywerheid in. Die komitee se belangrikste funksie is om dwarsdeur die jaar alle versoeke om bykomstige fondse te oorweeg, om te bepaal of sodanige besteding onvoorsien en onvermybaar is en om die Kabinet dienooreenkomstig te adviseer.

Amptenare

Die Ouditeur-generaal, een van die senior amptenare van die Tesourie, is, tesame met die departementele finansiële bestuurders, verantwoordelik vir kontantbestuur en die ontwikkeling en handhawing van stelsels en praktyke vir kontantbestuur. Rekeningkundige beamptes (basies die direkteurs-generaal van staatsdepartemente) word aanspreeklik gehou vir die besteding van hul departementele toewysings in ooreenstemming met die fiskale doelwitte en die maatstawwe van bekwaamheid, doeltreffendheid en billikheid.

In die jongste tyd was daar 'n beweging in die rigting daarvan om groter bestuursgesag aan die direkteurs-generaal te gee en, hiermee saam, om aanspreeklikheid strenger af te dwing. Dit kom neer op 'n stelsel wat groter mate van desentralisasie van finansiële bestuur en beheer behels as die stelsel wat tradisioneel in Suid-Afrika toegepas is.

Dit is gegrond op die oortuiging dat beter beheer uitgeoefen sal word indien daar groter bestuursvryheid sou bestaan, met dien verstande dat die bestuurders oor die verlangde bekwaamhede beskik en voldoende opgelei is. Werkverrigtingskontrakte word met die direkteurs-generaal aangegaan en hul werkverrigtinge word dienooreenkomstig gemeet en bestuur.

Laastens is daar die toesighoudende funksie van die Ouditeur-generaal, wie se kantoor reëlmatigheids- en werkverrigting-ouditering uitvoer. Die Ouditeur-generaal doen direk aan die Parlement verslag oor bedrieglike en ongemagtigde besteding en oor die standaard van finansiële bestuur by staatsinstellings. Die grondwetlike onafhanklikheid van die Ouditeur-generaal het die Parlement se waghond-funksie met betrekking tot die gebruik van openbare gelde versterk.

Staande Parlementêre Komitee oor Openbare Rekeninge

Die Staande Parlementêre Komitee oor Openbare Rekeninge maak die lys vol. Dit bespreek die bevindinge van die Ouditeur-generaal in die openbaar en doen verslag aan die Parlement, die bewaarder van openbare fondse. Die hoof-uitvoerende beamptes van die Staat word in die openbaar aanspreeklik gehou deur hierdie komitee.

(Sien ook: "Begroting II: Begrotingstekort en openbare skuld".)

Prof Estian Calitz & F Krige Siebrits

Verified Article