Afro-Amerikaanse denke (1619-1976)
Vanuit MyFundi
Inhoud |
Afro-Amerikaanse denke (1619-1976)
Opsomming
Die Afro-Amerikaanse ervaring in die Nuwe Wêreld het begin met die vroeë deurtog of Transatlantiese deurgang van slawe uit Afrika en hul voorbereiding in die Karibiese Eilande - die eerste koloniale bestemming vir plantasieslawerny. Dit het die begin van 'n lang stryd teen uitbuiting en diskriminasie ingelui, wat onafhanklikheid en vryheid, sowel as 'n hernuwing van die kulturele verbintenis met Afrika, meegebring het.
Martin Luther King (Jnr), die leier van die Burgerregtebeweging in die VSA, se beroemde toespraak ("Ek het 'n droom... dat my vier kinders eendag nie op grond van velkleur beoordeel sal word nie, maar op karakterinhoud") by die Lincoln-gedenkmonument in Washington DC het die gewete van die hele nasie aangespreek. © Associated Press
Die Afro-Amerikaanse ervaring in die Nuwe Wêreld het begin met die vroeë deurtog of Transatlantiese deurgang van slawe uit Afrika en hul voorbereiding in die Karibiese Eilande - die eerste koloniale bestemming vir plantasieslawerny. Tydens die deurtogperiode het die strewe na vryheid op destruktiewe wyses na vore gekom - meestal opstande op slaweskepe en selfmoord.
Tydens die sewentiende eeu het die onderwerping sowel as die dekulturasie en anglisering van die slawe in koloniale Amerika plaasgevind. Hierdie prosesse het weerstand verhinder, waarvan drossery en individuele gewelddadige weerwraak die algemeenste was, asook die ontwikkeling van 'n Afro-Amerikaanse ideologie vir slawe.
Die Afrikane in koloniale Amerika was omstreeks 1619-1679 tussen verpligte dwangarbeid en eiendomslawerny vasgevang. Anglisering het nogtans die kerstening van slawe ingesluit. Met verloop van tyd het godsdiens ontvlugting van harde arbeid en die toestand van gebondenheid gebied. Teen die vroeë jare van die agttiende eeu het die Christelike godsdiens 'n belangrike rol in die slawe se ideologiese lewe gespeel. Die Amerikaanse staat Virginia het eerste verklaar dat doop nie "die toestand van 'n persoon ten opsigte van sy gebondenheid of vryheid verander nie".
Terwyl die wetlike en fisieke beperkinge gegeld het, het slawe nietemin vertroosting, opbeuring en hoop uit die Christendom en die Ou-Testamentiese bevrydingsretoriek verkry. Hulle het dikwels ooreenkomste aangedui tussen hul toestand van gebondenheid en dié van die Israeliete. Dit geld veral die swart Baptiste se gesange en Bybelse tekste wat 'n ideologie veronderstel wat op vryheid ingestel is.
In die noordelike kolonies het onderwys die sekulêre retoriek van vryheid in die lewens van die Afro-Amerikaners laat deursyfer.
Amerikaanse Revolusie
Crispus Attucks (foto) was die eerste Afro-Amerikaner om te sneuwel voor die koeëls van die Britse Ryk in die Amerikaanse Revolusie.
Vervul met hierdie idee van sekulêre vryheid, het Crispus Attucks in 1770 teenoor die Britse soldate te staan gekom. Hy was die eerste om te sneuwel voor die koeëls van die Britse Ryk in die Amerikaanse Revolusie. Peter Salem, Prince Hall en Salem Poor het ook aan die Amerikaanse Revolusie deelgeneem. Hulle het vasgehou aan "hierdie waarhede wat vanselfsprekend is dat alle mense gelyk geskape is; dat hulle deur hul Skepper met sekere onvervreembare regte bedeel is; deel van hierdie regte is lewe, vryheid en die strewe na geluk."
Daar was ook slawe wat hulle by die Britse generaal lord Dunmore aangesluit het met die belofte dat hulle hul vryheid sou verkry. Hulle het vir die koninklike saak teen die slawe-eienaars geveg en vir hul persoonlike vryheid - nie teen die ideale van die Amerikaanse Revolusie nie. Toe die Revolusie geen voordele vir slawe opgelewer het nie, en slegs nominale vryheid vir vry Afro-Amerikaners, het die kerkleiers Absolom Jones en Richard Allen swart kerke tot stand gebring wat nie navolgers sou verwar met die gaping tussen die vryheidsretoriek en die werklikheid van uitbuiting en 'n gebrek aan politieke regte nie.
Vryheid en onafhanklikheid
Die suksesvolle Afro-Amerikaanse skeepseienaar Paul Cuffe het vir die eerste keer die gedagte van afskeiding in 'n kolonisasieskema geopper.
Hierdie beweging van die ouderlinge van die kerk het saamgeval met 'n meer wêreldlike soeke na vryheid en onafhanklikheid onder Afro-Amerikaanse individue. Die suksesvolle skeepseienaar Paul Cuffe het die begrip 'vryheid' tot by 'n kolonisasieskema gerek. Dít was die Afro-Amerikaanse afskeidingsgedagte wat vir die eerste keer na vore gekom het. Die koste daaraan verbonde het die deurvoer daarvan egter verhinder.
Met die morele verontwaardiging van die anti-slawernybeweging in Brittanje wat oorgespoel het na die Verenigde State, is Cuffe se pleidooi opgevolg deur 'n aantal mislukte slawe-opstande. Dit is spoedig oortref deur die idee van vryheid en integrasie van die afskaffers. Weer eens het wêreldlike vryheid die Afro-Amerikaanse gedagtegang oorheers.
Selfs die ontsnapte slaaf Frederick Douglass, wat die leiding van William Lloyd gevolg het, het hierdie gedagtegang aanvaar. Douglass het egter spoedig van Garrison weggebreek, wat radikalisme en die aanmoediging van siviele ongehoorsaamheid afgekeur het. In 1852 het Douglass ongeduldig geword met die gebrek aan vordering van die anti-slawernybeweging en het hy die skynheiligheid van die blanke Amerikaners aangespreek in sy toespraak van 4 Julie daardie jaar.
Separatisme
Frederick Douglass het 'n republiek vir Afro-Amerikaners oorweeg.
Douglass het pragmaties gebly en voortgegaan om met witmense saam te werk. Ná die Dred Scott-hooggeregshofbeslissing (1857), wat slawerny oral in die Verenigde State van Amerika gewettig het, en die mislukte slawe-opstand wat deur John Brown gelei is, het Douglass 'n republiek vir Afro-Amerikaners oorweeg.
Hy het inderdaad van integrasie na separatisme beweeg - 'n teenstelling wat die Afro-Amerikaanse gedagtegang in die volgende eeu sou kenmerk.
Net ná die Amerikaanse Burgeroorlog (1861-1865) het baie Afro-Amerikaners na die weste getrek, waar hulle dorpe net vir swartes tot stand gebring het om uiting aan swart separatisme te gee.
Selfstandigheid en arbeid
Booker T Washington het Afro-Amerikaners aangemoedig om hul omstandighede te verbeter deur ambagte en handvaardighede aan te leer.
Te midde van die herlewing van die Ku Klux Klan se geweld in die na-oorlogse Suide, het vrees in die geledere van die Afro-Amerikaners voortgeduur. Die Hampton-instituut het onderwys aan voormalige slawe verskaf en die onderwyser Booker T Washington het Afro-Amerikaners aangemoedig om hul omstandighede te verbeter deur ambagte en handvaardighede aan te leer.
Hy het die Tuskegee-instituut gestig en aangetoon wat met selfstandigheid en werk bereik kon word. Washington het in 1895, te midde van die geweld wat om hom geheers het, vir die Suidelike heerssugtiges 'n heenkome gebied. In sy toespraak voor die Atlanta-tentoonstelling het hy aangevoer dat die Afro-Amerikaners "moet leef deur dit wat hul hande kan produseer" en "eenvoudige arbeid moet verheerlik" en moet aanvaar dat ten opsigte van sosiale sake "hulle (hulle en die witmense) bloot sosiaal so onafhanklik soos mens se vingers kan wees." Hy het skeiding as die enigste redelike reaksie op wit rassisme aanvaar.
Washington het sy idees oor selfstandigheid en arbeid verder verduidelik in sy klassieke outobiografiese verhandeling, Up from Slavery. Die Hooggeregshof het in 1896 in die saak van Plessy teen Ferguson met die mening volstaan dat afsonderlikheid inderwaarheid gelykheid is. Vir die volgende twintig jaar het dié siening van Washington die botoon gevoer, al het straathowe en anti-swart-onluste onbeheers voortgegaan.
Vanaf 1903 het W E B du Bois (met 'n PhD in Sosiologie van Harvard-universiteit) met sy prikkelende werk, The Souls of Black Folk, Washington se gedagtegang teengestaan. Sy filosofie van menslike weerstand, stemreg en gelyke regte het die sogenaamde Niagara-beweging meegebring en is in die Noorde aanvaar, maar dit het weinig trefkrag in die Suide gehad.
Haarlem-herlewing en die Groot Depressie
W E B du Bois het die sogenaamde Niagra-beweging meegebring.
Desnieteenstaande moes Du Bois vir die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) wag voordat sy idees vrugbare teelaarde in die Noorde gevind het. Du Bois se verklarings het nie op politieke terrein vrug gedra nie, maar met betrekking tot 'n kulturele ontwaking, die Haarlem-herlewing (1920's), wat deur hom en ander Afro-Amerikaanse leiers beplan is.
Die Haarlem-herlewing het doodgeloop met die begin van die Groot Depressie.
In hierdie tydperk het Afro-Amerikaners as gevolg van diskriminasie en segregasie verliese gely. Tydens die 1920's het daar ook 'n ander dryfveer vir separatisme na vore gekom - Marcus Garvey se "Terug na Afrika" -beweging. Terwyl Du Bois met Pan-Afrikanisme geflankeer het, was dit Garvey wat groot ondersteuning vir sy handhawing van Afrika-trots en sy besonderse weergawe van Pan-Afrikanisme gekry het.
Nòg die Haarlem-herlewing, nòg die Garvey-beweging het egter lank geduur. Tog het daar geïsoleerde oorblyfsels van elk in die Dertigerjare behoue gebly.
Aktivisme ten opsigte van regspleging
John Brown het die regsgrondslag gelê vir 'n aanval op segregasie.
'n Byvoordeel van die Niagara-beweging was dat die Nasionale Vereniging vir die Bevordering van Gekleurde Mense (NAACP) ontstaan het en hulle nou tot geregtelike aktivisme gewend het om sake wat die potensiaal gehad het om presedente te skep, deur die howe te beveg. Laat in die Dertigerjare het hulle 'n paar sake teen segregasie in die hoër onderwys gewen. Terselfdertyd het swart werkers die industriële vakbondwese en 'n verskeidenheid van sosialistiese ideologieë aangegryp, net om uit te vind dat witmense hulle gelykheid en mag ontsê het.
Betrokkenheid by sosialisme is voortgesit in die vorm van sosialisme wat deur hulle self beheer is in die swart revolusionêre vakbondwese van die Vyftigerjare tot die Sewentigerjare. Hierdie neiging in die Afro-Amerikaanse gedagtegang het egter op die rand van die Afro-Amerikaanse ideologiese lewe gebly. Geregtelike aktivisme het weer ná die Tweede Wêreldoorlog na vore getree.
Die NAACP het in 1954 'n regsgeding oor klaskameroptrede gewen: Brown teen die Onderwysraad, wat die Plessy-uitspraak omgekeer het - met ander woorde, segregasie in openbare skole. Die NAACP het inderdaad geregtelike aktivisme gebruik om integrasie in die Amerikaanse hoofstroom van sekulêre vryheid en regte te bereik. Brown het die regsgrondslag gelê vir 'n aanval op segregasie.
Soos in die die geval van heropbou, het die wit rassiste in die Suide egter teruggeslaan.
Burgerregtebeweging
Die burgerregte-pionier Rosa Parks se weiering om haar sitplek op 'n bus aan wittes af te staan het die burgerregtebeweging in Amerika afgeskop. © AP Photo / Gene Herrick, File
Toenemende onderdrukking het bykomende aksie tot geregtelike aktivisme genoodsaak. Die inhegtenisneming van Rosa Parks, 'n naaldwerkster en NAACP-aktivis in Montgomery, Alabama, het aan Afro-Amerikaners in die Suide die geleentheid gebied om nie-gewelddadige optrede te gebruik om integrasie te verkry. Só het die Burgerregtebeweging, onder leiding van Martin Luther King (Jnr), ontstaan.
King het eerstens probeer om die vermoë van die Afro-Amerikaners om lyding te verduur - en nie geweld nie - te gebruik om hul teenstanders (wit rassiste) te verander. Toe hierdie benadering misluk, het King die beweging op die weg van konfronterende nie-gewelddadige optrede geplaas met die hoop dat hy openbare simpatie op nasionale vlak deur mediadekking sou wen.
Dít het wel geslaag. Die geweld van Birmingham het die wêreld se aandag gefokus op die VSA, wat gelykheid en regverdigheid gepredik het terwyl die regering die ontneming van stemreg, segregasie en onmenslike optrede teenoor Afro-Amerikaners toegelaat het. King se beroemde toespraak ("Ek het 'n droom... dat my vier kinders eendag nie op grond van velkleur beoordeel sal word nie, maar op karakterinhoud") by die Lincoln-gedenkmonument in Washington DC het gevolg en die gewete van die hele nasie aangespreek.
Die Burgerregwet (1964) en die Stemregwet (1965) het gevolg. Die Beweging het integrasie as deel van die hoofstroom van die Amerikaanse politiek gevestig. Tog was alles nog nie in orde nie.
Uitbuiting en diskriminasie
Malcolm X, leier van die Swart Moslems met hul selfverdedigende weerwraak en bemagtiging.
Afro-Amerikaners het steeds uitbuiting en diskriminasie in die Noordelike ghetto's verduur. Die gevolge was 'n selfgeldende ideologie met baie tentakels wat onder die vaandel van separatisme kan geklassifiseer word.
Daar was die selfverdedigende weerwraak en bemagtiging van die Swart Moslems (Malcolm X), Swartmag (Stokeley Carmichale), die swart revolusionêre vakbondbeweging (General Baker) en die Swart Luiperd -selfhelp en -selfverdediging (H Rap Brown).
Soos met die vorige manifestasies van separatisme, het hierdie weergawes ook op die grense van die Afro-Amerikaanse gedagtegang gebly.
Kulturele verbintenis met Afrika
Marcus Garvey se "Terug na Afrika" -beweging het groot ondersteuning vir sy handhawing van Afrika-trots en sy besonderse weergawe van Pan-Afrikanisme gekry.
Hierdie uitgebreide dryfkrag het 'n kulturele verbintenis met Afrika tot gevolg gehad wat die swartkunstebeweging voortgebring het. Afro-Amerikaanse kultuur het nou die Amerikaanse bewussyn binnegedring soos nog nooit sedert die Haarlem-herlewing nie. As gevolg van die tendense van integrasie en separatisme het die swart elite teen die middel van die Sewentigerjare in elke aspek van die Amerikaanse lewe gevestig geraak.
Afro-Amerikaanse denke het ook 'n belangrike rol in Suid-Afrika tydens die apartheidsjare gespeel om swart bewussyn in die stryd om vryheid en gelykheid te vestig.
Dr Cornelius Thomas









